Saturday, June 30, 2007

Dag 9, Saterdag 30 Junie, Mpika tot Iringa

Ons vertrek vanoggend weer vroeg na Iringa, aangesien ons vandag deur die Zambië / Tanzanië grenspos by Tunduma moet gaan en nie weet hoe lank dit sal neem nie. Ons ry die 35 km grondpad terug tot by die teerpad en neem ʼn paar foto’s van vroeë oggendtonele.





Die Tunduma grenspos was ʼn ondervinding wat ons seker nooit sal vergeet nie. Op pad na die grenspos ry ons verby rye vragmotors wat wag vir hulle klarings. Nog voor die hekke is daar alreeds baie mense wat die vreemde Suid Afrikaanse voertuie sien en dan begin saamhardloop. Ons stop voor die grenspos se hekke en terwyl die voertuie staan en luier, sluit ons maar die deure. Daar is seker omtrent vyftien mans rondom die Landie. Sommige van hulle wou ons help en ʼn klomp ander wou geld ruil. Ek wys toe vir een man dat ek net met hom gaan onderhandel en dat hy van die res van die mense moet wegstaan. Gelukkig kom daar toe ʼn persoon aan met ʼn kaartjie op sy bors wat redelik offisieel lyk. Hy sê toe dat ons maar kan uitklim en net eers by die hek gaan inteken.

Nadat ons klaar is, ry ons toe die grenspos binne, maar terwyl ek terugstoot hoor ek ʼn klapgeluid soos wanneer iemand oor ʼn bottel of stuk glas ry, maar ek ignoreer dit omdat daar nog steeds baie mense om ons saamgedrom het. Daar het baie voertuie binne die grenspos gestaan, waarvan ʼn klomp duur 4x4’s was. Hierdie is voertuie waarvan die eienaars nie die invoerbelasting kon betaal nie, en dit bly jare daar staan. Gelukkig het ons die Carne de Passage gehad, wat verhoed het dat ons invoerbelasting moes betaal. Hierdie was die deurmekaarste grenspos wat ons op die hele toer ervaar het.

Nadat al die nodige dokumente gestempel en deurgegaan was, ry ons na die Tanzanië deel van die grenspos. Die Tanzanië deel was baie meer georganiseerd, skoner en die geboue was ook nuut. Ons ruil toe eers geld om te betaal vir die pad fooie. Deel van ons toer beplanning was om op die internet die nuutste wisselkoers vir die geldeenhede wat ons gaan gebruik op ons toer te kry. Dit het vir ons darem ʼn idee gegee wat om te kry vir Amerikaanse dollars. Om Tanzanië te kan ingaan, moes elkeen van ons ʼn visum hê. Ons moes ook elkeen US$50 betaal vir ʼn tydelike visum wat dan 30 dae geldig was. Ons betaal ook US$25 per voertuig vir die padbelasting en permitte. Die foto’s wat ek met moeite in Livingstone laat neem het, was toe nooit nodig gewees nie.

Nadat ons klaar was by die grenspos en weer eens onseker was oor die spoedbeperking, vertrek ons na Iringa. Ons plan was om by Kisolanza Farm, so 40km voor Iringa te slaap, maar ons wou verder ry en eerder by Iringa Riverside Campsite gaan bly, net 10 km anderkant Iringa .

Op pad stop ons by Mbeya wat op die terugkom roete ʼn slaapplek sou wees, maar ons sien dat die plek het nie regtig kampplekke het nie. Ons gooi weereens diesel in en toe ek klaar betaal het kom sê iemand dat ek ʼn pap band het. Dit was natuurlik die klapgeluid wat ek by die grenspos gehoor het. Die band was darem nie heeltemal pap nie. Reg langs die garage was daar ʼn plek wat bande regmaak. Volgens een van die manne daar, was dit die klep van die band wat lek.

Nadat ek dit vervang het en die band weer gepomp het, ry ons verder. Na so 120 km stop ons langs die pad vir ʼn toiletbreek. Ek merk toe op dat die band weer pap is. Ek wou nie die band langs die pad omruil nie, en besluit dat ek eerder elke 100 km die band gaan pomp. Dit was nie meer te ver na Iringa toe nie. Op pad Iringa toe het ons deur ʼn paar plantasies gery. Ons sien die dag baie stukkende voertuie langs die pad en besluit om die volgende dag te tel hoeveel ons sien.



Riverside kamp, Iringa, Tanzanië.


Riverside kamp, Iringa, Tanzanië.

Ons kom donker by Iringa Riverside Campsite aan. Nadat ons betaal het gaan ruil ek en Poen die bande om. Terwyl ons besig was om die pap band reg te maak, maak die vrouens kos. Die kampplek is reg langs die rivier.

Friday, June 29, 2007

Dag 8, Vrydag 29 Junie, Lusaka tot Mpika

Ons staan vanoggend vroeg op. Ons plan is om vandag tot by Kapishya Hotsprings te ry, omtrent 110 km anderkant Mpika.

Tydens die aanvanklike toerbeplanning, het ek op die internet gevra vir aanbevelings vir blyplekke en almal het ons afgeraai om in Mpika te slaap of dat daar geen verblyf is nie. Ons het in die Weg tydskrif gelees van die Kapishya Hotsprings en wou vanaand daar slaap en ons wou ook die oggend verkeer van Lusaka mis. Dit behoort chaos te wees.

Ons ry op die Great Northern Road wat die hoofpad is na die noorde en loop tot by die bekende Copperbelt. Die Copperbelt is waar Zambië se groot kopermyne is.

By Kapiri Moshi moes ons regs afdraai, maar daar was geen rigting aanwyser wat aandui dat jy moet regs draai nie. Gelukkig was daar ʼn padblokkade by die afdraai en een van die polisiemanne noem toe vir Poen dat die meeste Suid Afrikaners reguit aanry en nie regs draai nie. Gelukkig het ek darem net 50m te ver gery.

Net voor Mpika kry ons weer ʼn padblokkade waar ons 10000 kwachas moes betaal vir tolgeld en padbelasting vir die gebruik van die pad deur die dorp. Ek weet nie of dit wettig was nie. Dit was die enigste keer op die toer dat ons moes betaal. In Namibië op ons Kaokoveld toer moes ons gereeld betaal het by sommige plekke as ons foto’s wou neem, so hierdie was ook seker maar vir ʼn skool of vir eie gewin, gelukkig was dit darem nie baie geld nie. Ons stop weer en gooi diesel in en soek ʼn winkel wat darem skaflik lyk, maar kon niks vind nie. Ons was op soek na brood maar besluit om dit maar self te bak.

Ons vertrek verder na Kapishya Hotsprings, die afdraai is so 85 km vanaf Mpika. Vanaf die afdraai was dit nog ʼn verdere 35 km grondpad verby Shiwa Ngandu Africa Manor House tot by die Kapishya Hotsprings. Die pad loop tussen mooi rye bome en oor ʼn paar klein riviere. Die grondpad is darem nie te sleg nie. Ons het al baie erger grondpaaie gery.


Die grondpad na Kapishya Hotsprings.

Toe ons by die ontvangs van Kapishya Hotsprings stop, kom die eienaar ons baie vriendelik ontvang en vra dat die vrouens tog sy tuin moet gaan kyk. Die tuine was baie mooi met groen grasperke. Hier was definitief genoeg water vir besproeiing, niemand sou so iets in die middel van Zambië verwag het nie.


Kapishya Hotsprings kamp, Zambië.

Nadat ons betaal het, gaan slaan ons kamp op en maak aandete. Na ete gaan swem ons heerlik in die warmwaterbron. Die water is nie baie diep nie, maar heerlik lekker warm en ons lê soos seekoeie in die water.

Thursday, June 28, 2007

Dag 7, Donderdag 28 Junie, Lusaka

Ek en Poen ry vanoggend vroeg Lusaka toe om eerste by die Toyota garage te wees vir sy bakkie se diens. Nadat hy die bakkie by Pieter de Villiers, die werkswinkelbestuurder gelaat het, ry ons weer terug Eureka kamp toe. Ons maak ontbyt en ry daarna weer terug Lusaka toe.
Op pad Lusaka toe kon ek darem diesel ingooi by ʼn BP garage. My kwachas het begin min raak. Omdat ons weer deur Zambië terugkom en dus weer kwachas sou gebruik, wou ons weer gaan geld omruil. Ek en Poen gaan koop toe brood en nog ander benodigdhede in Shoprite.
Aangesien Poen nie sy Comesa versekering in Livingstone kon uitneem nie, was ons volgende stop die kantoor waar Goldman Insurance is. Terwyl Poen sy Comesa versekering uitneem, wag ek vir hom in die bakkie. Ons wou nie weer ʼn herhaling hê van wat in Livingstone gebeur het nie.
Nadat Poen sy versekering gekry het, gaan laai ek hom by Toyota af. Sy bakkie was gereed en ons ry terug Eureka toe.
Vanaand moet ons maar vroeg gaan slaap en soveel as moontlik rus kry , die volgende paar dae gaan ons redelik vêr ry.

Wednesday, June 27, 2007

Dag 6, Woensdag 27 Junie, Livingstone tot Lusaka

Ons het vanoggend om 06:30 opgestaan, opgepak en vertrek teen 07:45 na Lusaka. Die pad was baie sleg en vol slaggate. Partykeer kon ons net 60km/h ry. Die son het ook so sleg van voor geskyn dat ek van die slaggate nie kon sien nie. Van die slaggate is sommer dwarsoor die pad. Ons het langs die pad by een van die vele stalletjies gestop en een sak houtskool gekoop wat ons sommer op die Landie gelaai het, waar daar baie plek was.


Sakke houtskool op die pad tussen Livingstone en Lusaka.



Die pad was baie sleg tot by Zimba waar dit weer ʼn breë en goeie teerpad geword het tot by Monze. Daarna was daar maar weer hier en daar slaggate wat baie dieper was as voorheen, maar ons kon darem teen 110km/h ry. Ons het weer langs die pad gestop waar Poen vir hulle ʼn sout en peperpot houer gekoop het.
Daar was ook langs die pad lewendige hoenders, kalkoene en tarentale te koop. Wanneer jy ʼn dorp inry is daar gewoonlik eers ʼn 50km/h bordjie, dan so drie stelle klein spoedwalletjies en dan een grote, wat seker maak dat die voertuie stadig ry. Die hoofpad loop deur die dorpies en ons moes maar gereeld stadig ry. Daar was dan ook gereeld padblokkades. Hulle sit sommer ʼn drom in die middel van die pad en as hulle jou wil stop, sal hulle so aandui, anders waai hulle net met die hand dat ons verder kon ry. Die polisie het ʼn paar standaard vrae soos, “ waar het ons laasnag geslaap”, “waar slaap ons vanaand”, en “kan hulle ons 3de party versekering sien”. Net een keer in Tanzanië het ʼn polisieman vir ons gevra “what presents did you bring us”.
Ons het in elke voertuig ʼn paar pakke sigarette, penne, potlode en lekkers gehad. Ons moes ook een keer ʼn paar koeldranke afstaan. Die polisie ken nie die Kaapse nommerplate so goed soos die GP’s van Gauteng nie, want hulle stop blykbaar die meeste GP’s en het al ʼn paar GP voertuie laat uitpak. Ons ry verby Mazabuka waar daar baie groot suikerplantasies is. Ons ry verder tot by Eureka-kamp, waar ons vir die volgende twee dae gaan bly.


Eureka kamp, Lusaka

Nadat ons kamp opgeslaan het, gaan kyk ons hoe Lusaka lyk, en soek ook sommer die plek waar Poen sy Comesa Yellow Card Insurance kon koop en ook waar die Toyota Garage is. Daar was baie straatsmouse wat hulle produkte aan ons wou verkoop. Ons neem hulle met die videokamera af, maar van hulle is maar sku vir die videokamera. Poen sukkel maar aanvanklik om by die sirkels in die verkeer in te kom. Jy moet maar indruk en hoop hulle gee jou ʼn kans om te ry.
Op pad terug wou Poen diesel ingooi, maar daar was by meeste van die bekende garages geen diesel nie. Gelukkig kon hy sy bakkie volmaak by een van die onbekendes. Iemand het vir ons genoem dat daar maar gereeld brandstof probleme in Lusaka is. Die aand braai ons frikkadelle, patat en aartappels. Die kamp is baie mooi maar daar is te min toilette. Daar is by die mans net twee toilette en drie storte vir die hele kampterrein. In die kamp is verskeie wildsoorte oa. sebras, rooibokke, buffels en apies. Die sebras stap saans in die kamp rond en vreet die gras.

Tuesday, June 26, 2007

Dag 5, Dinsdag 26 Junie, Livingstone

Vanoggend het ek en Poen gegaan om geld om te ruil. Ons het eers gestop by die Zambian State Insurance om die Comesa Yellow Card Insurance te kry, maar niemand wou dit vir ons gee nie. Ek het ʼn versekering vanaf Madison Insurance gekry en Poen Goldman Travel Insurance by verskillende mense op die grenspos. Daar was gelukkig ʼn Madison agentskap in Livingstone. Ons stap toe oor die straat na die naaste Bureau de Change wat in ʼn klein winkeltjie was en ruil ons geld om. Ons kry 950000 kwachas vir U$200. Toe ons buite kom het twee manne besluit Poen se bakkie is vuil en dit moet gewas word. Niemand het hulle natuurlik gevra nie. Ek het van die geleentheid gebruik gemaak om paspoort foto’s te laat neem, vir ingeval ek later foto’s sou benodig, aangesien ons almal moes aansoek doen vir ʼn tydelike visum vir Tanzanië. Dit kos my 20000 kwachas vir 4 foto’s, gelukkig het Yvette en al die ander mense darem ekstra foto’s gehad. Poen vra toe die sekuriteitswag, wat voor die Zambian State Insurance gebou staan, hoeveel hy die twee manne moet betaal wie sy bakkie gewas het. Die voorstel was 15000 kwachas per persoon. Ewe skielik is daar skielik drie manne wat die bakkie gewas het. Terwyl Poen met hulle staan en stry neem ek sy tas met al hulle dokumentasie uit sy hand uit en spring in die bakkie. Poen kon nie sy deur vinnig genoeg toemaak nie, en druk die een man sommer so halflyf binne in die bakkie in.
Na ʼn groot gestry en betaal van die wassers, is ons daar weg op soek na die Madison gebou. Na ʼn paar keer se rondvra en rondry kom ons by ʼn gebou waar daar ʼn bakkie voor die gebou staan met ʼn Madison plakker op. Ons stop by die museum aan die oorkant van die pad en Poen vra die sekuriteitswag dat hulle tog nie weer sy bakkie moet was nie. Die Madison kantoor was op die derde vloer, waar ek toe die Comesa Yellow Card Insurance kon kry. Die Comesa Yellow Card kos 88000 kwachas vir 3 lande. Ek neem ook die versekering uit vir Tanzanië, Kenia en Malawi. Die kantoor was verskriklik vol papiere en kon definitief nie baie goed bedryf word nie. Daar was ʼn gekrap aan een van die mure en het ons vir mekaar spottenderwys gesê dat dit seker muise moet wees. Poen kon nie regkom nie en moes sy versekering in Lusaka gaan kry want dit was nie Madison nie.
Ons ry toe maar terug na die kamp waar ons vir die eerste keer ʼn lekker ontbyt maak. Na ontbyt ry ons almal in Poen se bakkie tot by die Victoria Valle. Die sproeiwolk is al van ver af sigbaar. Dis waar die naam “Smoke that Thunders” vandaan kom. Die toegangsfooi is US$10 per persoon. Die rivier was baie vol water en veroorsaak dit baie sproei oor die waterval.

Victoria Valle, Livingstone.


Victoria Valle, Livingstone.

Ons neem baie foto’s en video waarna almal, behalwe ek, die roete gaan stap. Die
afgrond was te steil vir my en ek besluit toe om maar bo te bly. Almal trek hul reënjasse aan en toe hulle terugkom was hulle sopnat, die sproei waai van onder af onder die reënjasse in. Ons bring ook ʼn besoek daarna aan die inligtingsentrum waar ons ʼn baie lang eentonige lesing kry van die geskiedenis van die valle. Daar was ʼn paar helikopters wat oor die valle gevlieg het, en alhoewel dit lekker sou wees, sou dit seker baie duur wees.
Ons ry daarna deur Livingstone om die ander mense te wys hoe dit lyk. Op die pad terug stop ons eers by die Spar, koop houtskool, brood en water en ry toe verder na die Zambezi Waterfront waar die African Queen se kaai is om te kyk hoe dit daar lyk en om te vra hoeveel dit kos. Dit kos US$55 per persoon. Ons besluit toe ons sal op die boot kom vaar wanneer ons terugkom van ons toer.


The Livingstone Safari Lodge, Livingstone

Terug by die kamp gaan maak ons ʼn draai by die kroeg om vir die vrouens te wys hoe dit lyk en om ʼn yskoue Mosi te drink. Mosi is die naam van die Zambiese bier wat ons die meeste geniet het. Dit word afgelei van Mosi-oa-Tunya of the “Smoke that Thunders”. Die aand braai ons vleis en pak die meeste van ons bagasie in die voertuie. Ons wou die volgende oggend vroeg vertrek.

Monday, June 25, 2007

Dag 4, Maandag 25 Junie, Rundu tot Livingstone

Ons staan weer eens teen 06:30 op, en gaan kyk na die Okavango rivier wat teen die Sarasungu River Lodge se kampplek verbyvloei. Nadat ons die voertuie weer vol diesel gemaak het, vertrek ons na Livingstone. Ons het besluit om eerder tot by Livingstone te ry en nie by Katima Mulilo te gaan slaap nie. Op pad na Katima Mulilo ry ons by die Popa Valle in.


Begin van die Popa Valle.

Op ons Kaokoveld toer het ons twee nagte by die Epupa valle geslaap. Langs die pad ry ons verby verskeie veld-slaghuise. Die rou vleis hang sommer aan drade uit bome en daar is geen manier om die vlieë weg te hou nie. Die mense wat die vleis koop, sal dit maar goed moet gaarmaak om seker te maak die vleis is eetbaar. Ons sal dit glad nie eers oorweeg om te koop nie. ʼn Mens kan ook nie te vinnig ry nie, want daar is orals beeste en bokke wat oor die pad stap, om nie eers te praat van die mense wat te voet is of op fietse ry nie. Ons stop by die Popa Valle wat maar eintlik net ʼn stroom versnelling is.


Almal met hulle Crocs aan.

Hier moes ons eers toegangsgeld betaal. Nadat ons die plek verken het en ʼn paar foto’s geneem het, eet ons ʼn ligte middagete. Na Katima Mulilo moes ons nog deur die Namibië / Zambië grenspos gaan en ons weet nie hoe lank dit gaan neem nie, en het ons besluit om nie te veel tyd langs die pad te versuim nie. Ons ry verder oor die Okavango rivier tot by die hek waar ons die Caprivi strook inry. Orals is daar borde wat sê dat ons 80 km/h moet ry en uitkyk vir die olifante vir die volgende 180km, maar nêrens was daar enige diere nie, wel tekens van olifante. Hierdie pad sal maar baie gevaarlik wees in die nag. Die naam Caprivi was altyd iets wat ʼn bekoring inhou maar daar is niks om oor opgewonde te raak as jy net op die hoofpad bly nie. Ons kom teen 14:00 by Katima Mulilo aan waar ons by die toerisme kantoor stop en Poen vir hom wit en rooi weerkaatsers koop. Volgens die dokumentasie wat ons by die AA ontvang het, is dit in sekere lande verpligtend om wit weerkaatsers voor en rooies agter aan weerskante van jou voertuig te hê.
Ons gooi diesel in en vertrek na Livingstone. Eers moes ons deur die Namibiese grenspos gaan waar daar groot aanbouings is. Die twee kantoortjies weerskante van die pad is maar in ʼn verwaarloosde toestand. Na 10 minute is ons klaar en ry ons verder na die Zambiese grens. Hier word ons vinnig met die paspoorte gehelp. Hier moes ons 3de party versekering teen R120 uitneem vir die tydperk in Zambië, en ook N$75 betaal vir die voertuig vir padbelasting. Daarna is ons na doeane waar ons die Carne de Passage moes wys asook 15000 kwachas betaal vir uitlaatgas-belasting. Nie een van ons het kwachas gehad nie en ruil dit buite die kantoor by ʼn straat-wisselaar. Ek het iewers gehoor dat dit onwettig was maar dit was die enigste plek waar ons geld kon omruil, nêrens in Suid-Afrika kon ons geld van die ander Afrika lande kry nie. Elkeen van ons gee R300 en kry 15000 kwachas. Ons vertrek na 20 minute verder oor die brug na Sesheke en Livingstone.


Brug oor Zambezi, tussen Katimo Mulilo en Sesheke

Yvette neem video van die brug en die rivier. Terwyl sy besig was om die video te neem sien ek daar kom iemand met ʼn uniform en geweer aangestap wat iets skree, maar ignoreer hom omdat ek het nie geweet of hy vir ons geskree het nie. Mariana was nog besig om af te neem, toe skree die man vir haar ook iets en maak asof hy sy geweer op Poen wil rig, Poen stop toe. Volgens die polisieman mag ons nie die brug afgeneem het nie. Ons ry verder verby Sesheke en Kazungula waar ons met die terug kom oor die veerboot gaan ry. Ons kom die aand 18:30 in Livingstone aan. Ons moes die laaste uur in die donkerte ry. Ons was verbaas om te sien hoe die mense se padgebruik gewoontes was. As ʼn voertuig voor jou ry sit die bestuurder sy linker flikkerlig aan as jy hom kan verbysteek en sy regter flikkerlig aan as daar iets van voor aankom. Snags sit hulle hul regterkantse flikkerlig aan om seker te wys waar die voorkant van die voertuig is. Ons kon nog nie uitvind hoekom nie.

Ons ry tot by Maramba River Lodge waar ons beplan het om te gaan slaap. Die Landie se voorruit is baie vuil en maak die ryery maar baie moeilik. Die Maramba River Lodge was vol bespreek en hulle verwys ons toe na The Livingstone Safari Lodge waar ons toe gaan kamp. Ons betaal net eers vir 1 dag en sal eers môre wil kyk hoe dit lyk voor ons nog ʼn dag gaan oorbly. Die eienaar van die plek, Chess, is ʼn Noorweër en hy het vir ʼn tyd in Suid-Afrika gebly. Hy kan nog baie goed Afrikaans praat. Die aand eet ons pasta. Daar is naby die kampplek is ʼn sjebeen wat tot in die vroeë oggendure musiek speel. Die honde van die buurt blaf die hele nag en is baie steurend vir die van ons wat maar lig slaap.

Sunday, June 24, 2007

Dag 3, Sondag 24 Junie, Okahandja tot Rundu

Ons staan vanoggend 06:30 op, slaan tente af en vertrek na Rundu. Op die pad na Otjiwarongo stop ons eers langs die pad en koop biltong vir ons toer. Dis maar redelik duur, maar ons gaan nie gou weer eetbare biltong kan koop nie. By Otjiwarongo stop ons en koop water en koek. Dis vandag Mariana se verjaarsdag. Ons volgende stop is by Otavi vir ʼn toiletbreek en ry toe verder na Grootfontein. Voor Grootfontein, stop ons weer om na die Hobas meteoriet te gaan kyk.


Yvette, Mariana, Cecile, Nicolette by die Hobas Meteoriet naby Grootfontein.
Op die pad vermaak ons vir Poen hulle met musiek van onder andere Die Briels en Chris Blignaut, musiek wat nie in Poen se smaak val nie. Die kinders het dit baie amusant gevind. By Hobas eet ons ʼn vinnige middagete en ry verder na Grootfontein waar die voertuie en alle Jerry kanne vol brandstof gemaak word. Ons het gehoor dat diesel se prys in Zambië maar redelik duur is en ons wil so ver as moontlik, maar so goedkoop as moontlik ry! Hierdie is dan ook die laaste skof van die dag tot by Rundu. Op die pad Rundu toe stop ons en koop hout vir die aand se braai. Die pad is maar ver en reguit met min draaie. Gelukkig is dit ʼn nuwe omgewing en dus nie te vervelig nie.
Ons kom teen 15:00 by Rundu aan en stop eers by die Ngandu Safari Lodge, maar dit is te ver van die rivier af en die kampplek is nie baie mooi nie.


Uitsig oor die Okavango Rivier, Rundu.

Ons ry gou deur die Lodge se kampplek tot by die Sarasungu River Lodge. Ons gaan vanaand hier slaap. Die plek lyk baie mooier as die Ngandu Safari Lodge. Die pad is maar redelik sanderig en twee wiel trek voertuie sal daar kan vassit. Daar staan een Overland vragmotor maar die toeriste is ouerige mense en ons hoop nie hulle is te raserig nie.


Sarasungu River Lodge, Rundu.

Vanaand eet ons elkeen ʼn stuk koek om Mariana se verjaardag te vier. Twee jaar gelede was ons op toer deur die Kaokoveld en het ons Mariana se verjaardag by Hardapdam gevier.

Saturday, June 23, 2007

Dag 2, Saterdag 23 Junie, Springbok tot Okahandja

Ons staan vanoggend reeds om 04:00 op, maak koffie en pak ons slaapgoed in. Ons vertrek teen 05:00 vanaf Springbok na Okahandja en kom 06:00 by die grenspos aan. Dit neem ons 30 min om deur beide grensposte te gaan. Dit kos N$160 per voertuig vir die padbelasting. Een van die grenspos beamptes vra vir Yvette of ons enige vleis het om te verklaar, waarop sy gelukkig “ja” kon antwoord. Ons het gelukkig ʼn permit van die staatveearts op Elsenburg gehad vir alle vleis en suiwelprodukte.


Op die pad tussen Noordoewer en Grunau

Ons eerste stop is net voor Grunau waar ons ʼn paar foto’s neem van die mooi landskap en die sonsopkoms.


Op die pad tussen Noordoewer en Grunau

Ons maak die voertuie vol diesel by Keetmanshoop waar daar soos gewoonlik ʼn sterk wind waai. Ons eet sommer ook gou ontbyt aangesien ons vroeg reeds vanaf Springbok weg is. Die volgende stop is op Mariental waar ons ʼn vinnige middagete geniet en dan verder tot by Okahandja ry. Op die pad soontoe luister ons oor die radio na die rugby- toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland wat deur Nieu-Seeland gewen word. Teen 16:00 kom ons by Okahandja aan waar ons kamp in die nuut oor geneemde Kings Highway kampplek.



Gert en Poen sit rustig in King’s Highway Rest Camp, Okahandja.

Ek en Poen gaan maak die voertuie weereens vol diesel. Vroegaand maak ons vuur en braai ons net wors. Ons het vandag een van langste afstande op die pad, agter die rug.

Friday, June 22, 2007

Dag 1, Vrydag 22 Junie, Stellenbosch tot Springbok

Ons vertrek om 11:30 met 'n seer hart vanaf Stellenbosch en kry vir Poen hulle by Malmesbury. Sal ons dan weer almal veilig kan terug kom by die huis na ons toer, was die vraag in almal se harte. Aanvanklik het dit maar dol gegaan met die inpak, maar ons het besluit om tydens die toer ons bagasie en toerusting beter te organiseer. Vanaf Malmesbury het ons gery tot naby Clanwilliam waar Poen-hulle nartjies vir die toer koop.

Ons volgende stop was op Vanrhynsdorp waar ons vir Piet en Elma Brink gaan groet het. Ons gesels 'n bietjie en wens mekaar 'n veilige reis toe. Hulle gaan saam met Pieter (Spektrum) Visser hulle in Namibië toer. Hiervandaan vertrek ons na Springbok en kom om 18:00 daar aan. Ons ry direk na die Roosmaryn koshuis en bevestig ons blyplekke vir die aand, waarna ons diesel in die voertuie gaan ingooi, aangesien ons die volgende oggend vroeg wil ry. Ons sal maar altyd probeer om saans die voertuie vol diesel te maak. Vanaand eet ons hoender en gaan slaap vroeg. Die beddens is ou koshuis beddens en is heeltemal deurgelê. Ek en Yvette besluit om eerder die matrasse op die vloer te gooi en dan maar eerder daar te slaap. Die koshuis- leerlinge maak tot laat die aand musiek.

Thursday, June 21, 2007

Voorwoord

Hierdie toer het sy ontstaan gehad gedurende die Junie/Julie 2005 vakansie in Namibië. Tydens verskeie gesprekke is daar gepraat oor ʼn moontlike toer na die bekende Ngorongoro Krater, Serengeti, sowel as die Masai Mara wildernis- gebiede.

Dit was duidelik dat die moontlike groep moes bestaan uit mense wie vir so ʼn lang periode verlof kon kry en baie goed met mekaar kon klaarkom. ʼn Toer van hierdie aard en omvang sou ook deeglike beplanning verg. Nadat die idee bespreek was, was daar konsensus verkry vir die voorlopige beplanning van so ʼn toer.

Terug by die huis is alle moontlike bronne/inligting oor soortgelyke toere versamel, bestudeer en kon daar begin word met die opstel van ʼn voorlopige roete. Nadat ons kontak gemaak het met Karel, iemand wat Poen as verwysing gekry het, het ons besluit op ʼn finale roete wat die volgende plekke sou insluit: Hobas Meteoriet by Grootfontein, Victoria Waterval by Livingstone, die Ngorongoro krater, Serengeti, Lake Victoria, Masai Mara, Great Rift Valley, Zanzibar, Lake Malawi en nog vele ander mooi plekke. Dit was ook belangrik om vooraf te kon bepaal hoeveel dae by hierdie besonderse plekke oorgebly kon word.

Met die roete gefinaliseer kon ons toe bepaal hoe lank die toer sou neem. Ons het 37dae tot ons beskikking gehad en kon die afstande uitwerk wat ons moet ry per dag asook waar ons moes oornag. Een van die verskeie vrae wat ons gehad het, was hoe lank moes ons spandeer in die Serengeti en Masai Mara om baie diere te kan sien?

Reisdokumentasie het die volgende ingesluit: paspoorte, Internasionale bestuurslisensies, voertuigversekering, Carne de Passage, oorspronklike voertuig dokumente. Die voertuie was ook goed nagegaan en Elrico van Elrico Motors het vir my en Poen op ʼn vinnige voertuig bekendstellings-kursus geneem. Hopelik sou ons dit darem nie nodig gehad het nie. Alle voertuie was toe ook toegerus met alle moontlike herwinnings-toerusting en ekstra onderdele.

Die mediese voorraad het Mariana vir ons gereël en ons moes net almal self gaan vir die verpligte geelkoors inspuitings. Omdat ons in ʼn malaria gebied sou toer, moes ons ook alreeds voor die tyd ons malaria pille begin drink het. Aangesien die beskikbare water nie te alle tye ongesuiwer gedrink kon word nie, het ons suiweringmiddels gekoop om die vuil water te behandel. Ten einde gereed te wees vir enige probleme is daar vooraf kamp opgeslaan om te bepaal hoe ʼn laer getrek kon word met die voertuie en windnette as beskerming tydens ons besoek aan Serengeti en Masai Mara waar die kampe nie omhein was nie.