Sunday, July 8, 2007

Dag 17, Sondag 8 Julie, Masai Mara tot Eldoret

Ons plan was om vandag tot by Eldoret te ry, die plek in Kenia waar die meeste van hul bekende langafstand atlete vandaan kom en ook oefen, en wat ook deel is van die Great Rift Valley.
Die pad terug was weereens baie sleg. Die Landy het verwoed op en af gehop, en na verdere ondersoek het die laaste moer van die heel skokbreker toe ook afgeval. Die draad op die bout was heeltemal glad en kon nie nog ʼn moer vat nie.
Ons ry toe ʼn ander pad na Eldoret. Een van die mense wat ons gekry het by die Oloololo hek, het aanbeveel dat ons die pad oor Kilgoris moes ry. Dit sou darem so 100km korter wees en hopelik nie so sleg soos die pad wat ons na die Masai Mara gery het nie. Die omgewing was groen en baie mooi met baie heuwels, maar die pad het maar sleg gebly tot by Kilgoris.
Vanaf Kilgoris was dit ʼn teerpad tot by Kisii, maar dit kon net sowel ʼn grondpad gewees het, ons sien net kolle teer en op ander plekke is dit net slaggate wat darem gelukkig nie te diep was nie. Kisii is een van die vuilste dorpe waardeur ons gery het. Daar was ook nie regtig rigtingaanwysers om te wys watter rigting ons moes ry om na Kisumu te gaan nie en ons was maar bly ons het GPS’e gehad.
Kisumu is een van Kenia se grootste stede, maar is ook baie besig en het een van die grootste taxi staanplekke in die land. Heel toevallig het die pad na Kakamega langs die taxi staanplek verby geloop. Ons volgende stop was 15km noord van Kisumu by die grens van die ewenaar.




Die plek was niks besonders nie, net ʼn bord langs die pad wat die ewenaar aandui. Toe ons deur Kakamega ry, het dit begin reën. Ons gaan vanaand slaap by die Naiberi Rivercamp 10 km anderkant Eldoret. Eldoret is ʼn groot plek met selfs robotte, maar die robotte werk natuurlik nie.

Ek het iewers op die internet gelees dat die eienaars van Naiberi Rivercamp daarop aanspraak maak dat hulle die beste storte in Afrika het. Op die GPS se Tracks4Africa-kaart dui dit die Naiberi Rivercamp aan, maar toe ons afdraai van die grootpad, ry ons met ʼn slegte grondpad vol gate en waterpoele tot by die verwysingspunt van die Naiberi Rivercamp. Die plek was verlate en was vir ons ʼn groot teleurstelling. Gelukkig het daar iemand aangekom wat vir ons vertel het dat die kamp geskuif het. Die bord was langs die pad en dat die Tracks4Africa kaart nog die ou kampplek aangedui het. Die eerste kampplek het die eienaars van Naiberi net gehuur, maar die nuwe kampplek was hulle eiendom.
Wat ʼn groot verligting was dit nie toe ons by die nuwe Naiberi kamp kom nie. Die bestuurder Ash kom ontvang ons en wys vir ons die geriewe. Dit was baie indrukwekkend, daar is afsonderlike afdakke met braaiplekke vir elke kampplek. Die ablusie was tot sover die beste wat ons in Afrika by ʼn kampplek gekry het. Daar is ook ʼn groot ontspanningsarea onder dak, wat ʼn kroeg en restaurant insluit. Buite is daar baie gras en ʼn groot splinternuwe swembad. Op pad na die ontspanningsarea loop ʼn mens in ʼn tropiese tuin tonnel wat net deur ʼn argitek of iemand met goeie smaak ontwerp kon gewees het.
Nadat ons kos gemaak het, het dit weer begin reën. Ons gaan maak toe ʼn draai in die kroeg, betaal gou vir die verblyf en drink ʼn yskoue bier terwyl ons ʼn paar stories met Ash uitruil. Later kom die eienaar van die Naiberi kamp ook daar aan, en heet ons welkom. Hierdie kampplek sal ons oral waar ons kom vir mense aanbeveel, net jammer Kenia se paaie was so sleg.