Monday, July 2, 2007

Dag 11, Maandag 2 Julie, Mombo tot Ngorongoro Crater

Vandag ry ons tot by die Ngorongoro Crater. Ons staan donker op want daar moet nog inkopies gedoen word en ook geld op Arusha geruil word. Ons ry maar teen 80km/h omdat dit nog donker is.
Teen oggendskemer stop ons langs die pad en koop ʼn paar bondels hout, aangesien ons weet waar ons weer hout sou kry nie. Die weer was betrokke en ons was nie seker of ons Kilimandjaro sou kon sien nie. Ons het gesoek na die berg, maar met groot teleurstelling kon ons dit nie sien nie.
Daar het ʼn ligte reënbui geval toe ons Arusha inry. Ons ry eers na Masai Campsite om te gaan kyk waar dit geleë is. Die Masai Campsite was een van die kampplekke waar ons miskien sal bly wanneer ons terugkom vanaf Kenia. Daarna gaan ons terug na die midde dorp waar ons eers by ʼn Bureau de Change stop om geld te ruil. Arusha is ʼn groot dorp en die paaie is baie besig met feitlik geen stoptekens nie, wat dan nog van robotte gepraat. Ons volgende stop was om diesel in te gooi en toe na Shoprite waar ons voorraad koop vir Ngorongoro Crater, Serengeti en Masai Mara. Ons sal eers weer oor byna twee weke in ʼn groot stad kom.
Nadat ons inkopies gedoen het, stop ons by ʼn garage waar Poen sy watertenk volmaak. Hierdie water wil ons gebruik om te stort en vir wasgoed. Ons het by ander verneem dat daar nie lopende water in Tanzanië se parke was nie.
Ons vertrek hierna verder na Ngorongoro Crater met die plan om vinnig by Lake Manyara te stop waar daar glo baie flaminke is. Op pad na Lake Manyara ry ons verby baie Masai veewagters met hulle troppe beeste en bokke. Die veld was kaal gevreet en baie oorbewei en die stof trek soos die diere stap. Die Masai’s kyk die voertuie baie agterna want hulle weet toeriste het geld en hulle vra ʼn paar dollar vir ʼn fotosessie. Later stop ons by ʼn Masai winkel waar ek en Poen vir ons elkeen ʼn Masai kombers koop.


Masai Winkel op die pad na Ngorongoro Crater.


Masai Winkel op die pad na Ngorongoro Crater.

Lake Manyara, net soos alle ander Tanzaniese parke, vra US$35 per persoon per dag asook nog US$15 per voertuig, wat volgens ons, net te duur was om gou te gaan kyk hoe lyk die flaminke. Ons ry egter verder na Ngorongoro Crater. Die pad begin al hoër klim en die plantegroei word al digter. Ons kon darem vir Lake Manyara in die verte sien. Ons stop by die eerste hek waar daar ʼn paar mense rondstaan. Niemand wou ons help nie. Ons kom toe agter dat dit nie die amptelike hek was waar ons moes betaal nie, maar dat die hek nog 500m verder was.

Ingang na die Ngorongoro Bewaringsarea.

Ons betaal al die fooie vir die Ngorongoro Crater wat insluit US$35 per persoon per dag en koop ook ʼn kaart van die krater asook ʼn plakker van Tanzanië. Hier was net so ʼn klomp bobbejane soos by Kaappunt, maar hulle val darem gelukkig nie die mense aan nie.
Na die hek kronkel die grondpad tussen digte bome deur, al hoër teen die kraterwand uit tot by die krater se uitkykplek. Ek dink die pad sal maar redelik glad wees in die reënseisoen. Die woud lyk soos een van die woude in die Tarzan flieks. Wat ʼn gevoel was dit nie toe ons die krater sien nie. Ons het baie ver gery in ʼn kort tyd om hier te kan wees. Die Ngorongoro Crater was een van die hoogtepunte van die toer waarna almal uitgesien het.



Dit was baie winderig bo-op die krater se rand en die lig was maar dynserig, maar nog steeds was die uitsig van bo af baie mooi. Hierdie was ʼn uitsig wat baie mense al op televisie gesien het, maar baie min mense het dit al self beleef. Daar is ʼn paar mooi Lodges bo-op die krater se rand, maar dit sal seker baie duur wees om daar te bly.
Ons gaan vandag kamp opslaan en dan môreoggend vroeg afgaan in die krater. Die fooie vir Ngorongoro Crater en Serengeti werk in 24 uur siklusse d.w.s. as jy teen 15:00 ingaan moet jy teen 15:00 uit wees, anders betaal jy vir nog ʼn dag. Jy mag ook net 6 uur lank in die krater wees en dit kos US$200 per voertuig.
Nadat ons klaar foto’s geneem het en die groot oomblik klaar ingeneem het, ry ons na Simba A kamp waar ons vir die nag gaan kamp. Dit is waar die Voetspore manne ook was. Die groot boom wat ons op die Voetspore video gesien het, was duidelik uitkenbaar. Ons is gewaarsku teen die vuil ablusie geriewe, maar het gehoop dat dit darem nie so is nie. Nadat ons die tente opgeslaan het, het ons die kans gebruik om rustig te wees.



Ek bel vanaf die krater se rand vir my ouers in Stellenbosch. Terwyl ons die toer beplan het was een van die items wat ons oorweeg het ʼn satelliet telefoon, maar dit sou net geldmors gewees het. Op 99% van al die plekke waar ons was, was daar altyd selfoon ontvangs, natuurlik teen ʼn baie hoër koste as in Suid-Afrika. Later die middag begin waai daar ʼn yskoue wind. Die kamp opsigter kom maak later ʼn draai by ons en waarsku ons teen bosvarke. Hy noem toe ook dat hy nie verwag dat dit sou kom reën nie.
Ons maak die aand vuur in ons stofies vir die vleis wat ons wil braai. Die wind sou al die kole weggewaai het as ons ʼn oop vuur maak. Ongelukkig vir ons, kom stop daar ʼn Overland vragmotor reg langs ons. Gelukkig was die mense baie stil. Die nag begin dit reën en die wind waai baie sterk. Skielik hoor ons net ʼn geraas buitekant. Daar was twee massiewe groot swart bosvarke buitekant besig om ons swart sak vol vullis, wat ons bo-op Poen se tafel gesit het, uitmekaar te skeur. Die varke het met hul voorpote bo-op die tafel geklim om die sakke af te haal. Die tafel is gelukkig darem nie te erg beskadig nie. Poen het toe maar die sak bo-op sy bakkie se dak gaan wegsit.