Friday, July 6, 2007

Dag 15, Vrydag 6 Julie, Lake Victoria tot Masai Mara

Ons het vandag tot by die Masai Mara gery en moes maar gaan slaapplek soek. Daar was geen amptelike kampeerplekke vir die publiek binne in die Masai Mara nie. Die meeste van die parke het voorsiening gemaak vir oorsese toeriste en nie toeriste wat met hulle eie voertuie rondry nie.
Ons het in ʼn noordelike rigting gery al langs die Victoria meer tot by Musoma waar ons gaan diesel ingooi het. Ons sou nie gou weer diesel kon ingooi nie en ons het nie geweet hoe ver ons gaan rondry in die Masai Mara nie.
Daarna was ons volgende stop die Tanzanië/Kenia grenspos, wat darem nie te veel moeite en tyd van ons geneem het nie. Na die gewone geld ruil transaksies en doeane stempels, ry ons Kenia binne.
So 20 km anderkant die grenspos, net voor die dorpie Suna, is daar ʼn afdraaipad na regs na die Masai Mara. Daar was ʼn groot rigtingaanwyser langs die pad wat een van die Lodges in die Masai Mara aangedui het. Die pad was aanvanklik ʼn grondpad vol slaggate, wat daarna ʼn twee spoor pad geword het tot by ʼn sekuriteitshek. Daar moes ons ook maar net aandui dat ons Masai Mara toe op pad was en is toe deurgelaat.
Hierna het die pad partykeer beter geword en soms moes ons deur slote en oor riviere met nou bruggies ry. Hoe nader ons aan die Masai Mara gekom het, hoe slegter het die pad geword. Meeste van die toeriste wat na die Masai Mara toe kom, vlieg vanaf Nairobi tot in die Masai Mara, dit neem maar so 45 minute. As die toeriste die pad moes ry, sou niemand die park besoek het nie.






Sekere dele van die pad moes ons sommer langs die pad ry of op ompaaie deur die bosse. In die reënseisoen is die pad seker ʼn nagmerrie.
Toe ons by die Oloololo hek aankom, gaan vra ons of daar slaapplek was. Net voor die hek is daar ʼn nie- amptelike publieke kampeerplek waarvoor ons moes betaal. Ons betaal vir twee nagte en sommer ook die volgende dag se park fooie. Die park fooie van Kenia is heelwat goedkoper as die van Tanzanië. Die kampplek het ook geen omheining gehad nie. Daar is lopende water, put- toilette en koue storte, so dit was nie werklik nodig om water saam te ry nie. Gelukkig was daar al mense wat daar gekamp het. Hulle maak maar saans ʼn groot vuur en hou dit aan die gang om die roofdiere, soos hiënas, weg te hou.
Nadat ons kamp opgeslaan het, gaan klim al die groot mense op die Landy se dak. Poen wou baie graag op ʼn voertuig se dak sit en die uitsig oor die Masai Mara waarneem. Die grasvlaktes met die doringbome was baie mooi. Ek het gou huis toe gebel om te laat weet dat ons veilig in die Masai Mara was. Alles het goed gegaan by die huis. Die Masai Mara het geen grensdraad nie, die diere migreer oor na die aangrensende Serengeti soos die reënseisoene is.