Monday, July 9, 2007

Dag 18, Maandag 9 Julie, Eldoret tot Nairobi

Ash het die vorige aand verduidelik hoe ons moet ry tot waar ʼn mens die Great Rift Valley die mooiste kon sien. Volgens hom was die pad nie te sleg nie, en kon ons sommer daarvandaan direk tot in Nairobi ry. As hierdie pad nie te sleg was nie, sou ek glad nie die werklik slegte paaie van Kenia wou sien nie.



Die feit dat ons sonder skokbrekers gery het, het die ry seker vererger, maar om plek-plek nie vinniger as 20km/h op ʼn teerpad te kon ry nie, moes die kondisie van die pad baie sleg gewees het. Daar was dele van die pad waar die slaggate die hele pad vol was en dan moes ons maar langs die pad ry. Soms was daar selfs ook slaggate in die ompad. Dit het maar op en af geskud en was baie frustrerend vir ons in die Landy.

Ons het gehoop dat die pad nie heelpad so sleg sou wees nie, en dat die uitsig oor die Great Rift Valley die moeite werd sou wees. Dit het gelyk soos die heuwels van Switserland. Daar was groen golwende heuwels, met baie bome en diep valleie. Dit was maar bewolk en effens dynserig, maar ons kon darem ʼn goeie idee kry van hoe dit lyk. Die slegte pad het ook nie beter geword nie.

Ons stop toe weereens by die ewenaar se grens, die keer op ʼn ander pad. Daar was darem ʼn toerisme winkel waar ons ʼn paar aandenkings kon koop.



Die pad het darem nie meer slaggate nie, maar dit het gelyk soos die see, met golwe, wat veroorsaak het dat ons nie vinniger as 60 km/h kon ry nie, anders het die Landy in ʼn groot wieg in gegaan wat baie gevaarlik kon wees.

Van Nakuru af was hulle besig om ʼn nuwe pad te bou wat tot in Nairobi loop. Die ou teerpad lyk erger as ʼn sinkplaat pad en dit was vir 60km ver so. Ons ry nou verby Lake Nakuru en Lake Naivashu op ʼn tydelike grondpad, terwyl hulle aan die pad bou tot by Limuru waar ons op die nuwe pad begin ry.

Net voor Nairobi stop ons by nog toerisme winkels langs die pad. Hiervandaan kon ons ook ʼn mooi uitsig oor die Great Rift Valley kry.

Ons kom so 15:00 se kant in Nairobi aan. Die pad wat ons moes ry as ons Nairobi inkom, was ʼn groot breë pad, net soos die N2 in Kaapstad. Ons moes mooi kyk vir die afdraai na International Livestock Research Instute (ILRI), waar ons vir twee dae gaan bly het by Etienne en Santie. Etienne was op die see besig om sy seiljag vanaf Suid-Afrika na Kenia te bring, so net Santie en die kinders was by die huis. Hulle huis is in die ILRI sekuriteit-kompleks. Dit is baie veilig daar met wagte wat 24 uur die plek patrolleer en ons moes deur groot hekke by ILRI inry. Voor die huis is daar ʼn groot grasperk met lekker koeltebome.

Ons besluit toe om sommer op die grasperk voor die huis te kamp, ons wou nie vir Santie ongerief veroorsaak nie. Ons besluit om sommer vir ons almal Pizzas te bestel vir aandete, aangesien ons lanklaas kitskos geëet het. Santie hulle het permanent internet in die huis en ek gebruik toe sommer die geleentheid om ʼn paar foto’s per e-pos aan die mense by die huis te stuur en ook ʼn bietjie nuus te lees. Yvette stuur toe ook gou vir Nichola by Nungwi Amaan Bungalows, waar ons in Zanzibar gaan bly, ʼn e-pos om te sê dat ons toer nog volgens plan verloop, en dat ons ʼn dag ekstra op Zanzibar wil bly. Nichola wou weet hoe laat ons op Zanzibar sou wees, maar ons kon dit nog nie vir haar bevestig nie. Ons het afgespreek om haar te bel sodra ons die veerboot kaartjies in Dar Es Salaam gekoop het.