Sunday, July 1, 2007

Dag 10, Sondag 1 Julie, Iringa tot Mombo

Ons ry vandag heeldag in Tanzanië en ʼn deel van die pad loop deur die Mikumi Nasionale park. Net anderkant Iringa ry ons deur ʼn bergreeks langs ʼn groot rivier vir ongeveer 60km.


Kitonga Gorge, tussen Ilula en Mikumi.

Daar is baie kremetartbome langs die rivier. Die busse jaag onverskillig op die paaie en moes ons maar versigtig ry. Die busse bedien die roete tussen Dar Es Salaam en Tunduma.


Kitonga Gorge, tussen Ilula en Mikumi

Dat daar nie een omslaan nie is net ʼn wonder. Ek waarsku maar gereeld vir Poen as daar een van vooraf kom, weet nie hoekom nie, maar hy kry altyd die busse op die draaie. Hulle bly nie eers aan hulle kant nie, dis sommer gereeld dat hulle oor die wit streep ry, dan moet ons maar so links as moontlik hou. Daar was baie bobbejane ook langs die pad wat sit en saadjies vreet, dat nie een raak gery word nie is ʼn wonderwerk, hulle is seker te rats.

ʼn Groot deel van die Mikumi Nasionale park wat langs die pad is, het lelik gebrand. Ons sien ʼn paar kameelperde, rooibokke en sebras. Hopelik sal ons nog baie sien in die Serengeti en Masai Mara.

Nadat ons deur die Mikumi Nasionale Park gery het, het die omgewing ook groener begin word. Daar was baie mense langs die pad wat piesangs, papajas en tamaties verkoop het.

So 100 km voor Dar Es Salaam by Chalinze draai die pad weg na Arusha toe. Net nadat ons by Chalinze afgedraai het, hoor ek ʼn klapgeluid op die Landie, maar kon nie vasstel waar dit vandaan kom nie. Ek trek toe af langs die pad om ondersoek te doen. Al vyf moere van die linker agterwiel wat gister pap was, was los gewees. So los dat ek hulle almal met die hand kon uitdraai. Dit was net die Here se genade dat die wiel nie uitgeval het nie.

Nadat ek die moere van die wiel asook alle ander wiele nagegaan het, vertrek ons verder na Mombo. Ons ry verby baie aalwynagtige plante in landerye, wat ons later uitvind, vlasplante was.

Naby Mombo kom ons op ʼn ongeluk af wat seker so pas gebeur het. Daar het baie mense gestaan maar geen teken van polisie of ʼn ambulans nie. Ons het vandag 22 stukkende of omgeslaande voertuie langs die pad getel.

Teen skemer kom ons by Pangani River kamp aan, ongeveer 40 km anderkant Mombo. Dit is ook ʼn mooi plek langs die rivier. Vanaand gaan die muskiete ons seker opvreet. Die eienaar van die plek het geslaap, hy was blykbaar moeg. Een van sy werkers het ons ontvang. Die plek is mooi maar die geriewe is baie verwaarloos. Daar was wel storte maar geen lopende water Ons sal die kampplek vir niemand aanbeveel nie. Ons was ook van plan om hier te oornag as ons terugkom, maar het maar besluit om ʼn ander plan te maak.

Vanaand braai ons wors en Poen maak lang roosterkoeke vir die worsbroodjies.