Saturday, July 14, 2007

Dag 23, Saterdag 14 Julie, Nungwi

Vandag gaan ons snorkel duik. Die see was nie rof nie, daar het net so ʼn ligte windjie gewaai en dit was effens betrokke. Ons kry toe die man wat die duik gereël het by die see en gaan eers na ʼn duik winkel waar ons elkeen paddavoete en ʼn duikbril uitsoek vir die dag. Dit was laagwater en die see het ver teruggetrek. Ons moes so 50m in die vlak water stap voordat ons by die boot, wat ʼn Dhow genoem word, uitkom. Poen het sommer dadelik daarop aangedring om die Dhow self te skipper.


Poen agter die stuur van ‘n Dhow

Dit sou help teen seesiek. Saam met ons op die Dhow was twee meisies van Ierland wat in Tanzanië onderwys gee. Die boot het ʼn kort bo-dek gehad. Ek het sommer daarop geklim vir ʼn mooi uitsig. Poen skipper toe die boot, terwyl die eienaar wys waarheen om te vaar. By die duikplek gekom, moes die dhow eers geanker word. Toe die dhow begin skommel het Poen sommer dadelik begin naar voel. Hy spring toe af in die water met sy duikbril en paddavoete, maar dit het nie regtig gehelp nie. Die res van ons het rustig rondgeswem op kyk na die klein skole vissies. Die eienaar van die boot het klein stukkies kos in die water gegooi wat die vissies gelok het.


Poen en Mariana op die Dhow


Ons duik ekspedisie op Zanzibar

Die sig in die water was baie goed. Hierdie was my eerste duikpoging, nadat ek op ʼn ouderdom van sestien die kreefduik-sport vaarwel geroep het. Hierdie was darem ander toestande as die koue water van die Atlantiese oseaan teen die Weskus.
Nadat ons sowat ʼn halfuur in die water was, is ons na die strand naby Kendwa met die dhow. Deel van ons duikpakket was ook ʼn ligte maaltyd op die strand. Die maaltyd het bestaan uit papaja, pynappel en kokosneute. Die kokosneute was in stukke opgesny. Ons het nie geweet dat ons die kokosneute met die bruin dop kan eet nie. Poen was nie gretig om op die dhow terug te vaar nie, en wou sommer terugstap. Ons kon hom darem gelukkig oorreed om saam met ons terug te vaar.
Op die terugvaart het die wind van agter gewaai en ons seil toe saam met die wind terug na Nungwi toe. Op die pad terug na ons slaapplek sien ons ʼn restaurant wat “Eat as much as you can” vir US$10 adverteer.


Middagete na die duik by Kendwa

Ons bespreek sommer dadelik vir ons plek in die restaurant. Die middag gaan eet ons in die Fat Fish restaurant, waarna ons eers weer ʼn bietjie gaan rus voor die volgende eetsessie.
Later die middag gaan stap ons in die dorp rond en koop vir ons koeldrank en mango’s in ʼn plaaslike winkel. Die koeldrank was maar warm, dit word nie koud verkoop nie. Ons stap tussen al die stalletjies langs die pad en gaan drink later koffie en eet sjokolade- koek by een van die kafees.
Na ons gebruiklike sonsondergang drankie, gaan ons na die buffet restaurant toe. Van die mense het sommer op die strand by tafels gesit. Die kostafels was ook op die strand.


Besig om sjokolade koek en koffie te geniet op Zanzibar
Die kos in die bakke het min gelyk en ons het maar gehoop daar sal nog kom. Toe ons ʼn tweede bord wou gaan inskep, was die meeste van die lekker seekos al op. Nadat hulle bevestigend geantwoord het op Poen se navraag, drink ons maar intussen nog ʼn bier. Daar was egter geen teken van ekstra kos nie. Ons was nie die enigste mense wat oor die hoeveelheid kos gekla het nie en betaal toe nie die volle bedrag van US$10 per persoon nie. Toe ons by hulle advertensiebord met die spyskaart verbystap was die deel van “Eat as much as you can” doodgevee! Hierdie restaurant sal ons vir niemand aanbeveel nie. Die hoeveelheid seekos by die ander restaurante was baie meer en ook baie lekkerder. Teleurgesteld gaan slaap ons maar die aand na al die dag se aktiwiteite.