Saturday, July 21, 2007

Dag 31, Saterdag 21 Julie, Senga Bay tot Lusaka

Vandag staan ons vroeg op. Ons wou kyk of ons tot by Lusaka kan ry. Gelukkig het ons geweet waar die Eureka kampplek was en sou dit selfs in die donker maklik kon vind.

Ons eerste stop was in Lilongwe, waar ons probeer diesel ingooi het met dollars, maar geeneen van die garages wou dit aanvaar nie. Dit was seker maar net die garage in Salima wat US dollars aanvaar het. Lilongwe is ʼn groot stad met baie goeie paaie.

Ons vertrek na die Malawi / Zambië grenspos. By die grenspos ruil ons dollars vir Zambiese kwachas en laat stempel ons paspoorte. Ons laat ook die Carne de Passage voltooi en betaal weereens vir die gebruik van die Zambiese paaie. Eers nadat ons klaar betaal het, kom ons agter dat die bedrag wat ons betaal het toe ons Zambië vanaf Namibië binnegekom het, nog geldig was. Toe ons vra dat hulle ons geld teruggee en die betaling kanselleer, doen die beampte dit sonder enige besware.

Die pad was in ʼn goeie toestand tot by Chipata, maar daarna was dit weer net slaggate waar jy kyk. Ons ry maar stadig tot by Petauke. Ons wou vandag tot by Lusaka ry, maar as die pad so swak bly, sou ons baie laat in Lusaka aankom. Gelukkig het die pad verbeter tot in Lusaka.

Later die dag ry ons met die Luangwa brug oor die groot Luangwa rivier, wat baie naby aan die Mosambiek grens is. Toe ons aan die anderkant van die brug stop, was daar ʼn soldaat met ʼn AK-geweer wat ons 3de party versekering wou nagaan. Daarna kon ons verder ry, maar Poen moes eers verduidelik hoekom hy nie gewag het totdat ons klaar oor die brug was nie. Daar mag net een voertuig per keer op die brug wees. Die regering probeer om die brug solank as moontlik in ʼn goeie toestand te hou.
Nêrens op pad na die brug het ons enige kennisgewing gesien oor die aantal voertuie op die brug nie. Snaaks genoeg, agter Poen het ʼn ou bakkie gery van een van die plaaslike mense. Hierdie bakkie is sonder probleme deurgelaat. Dit het net weer eens vir ons gewys dat toeriste in hulle spore moet trap.

ʼn Ent anderkant die brug stop ons langs die pad, waar ek uit die jerrykanne diesel ingooi. Dit was nog ʼn redelike ent Lusaka toe en die diesel in die Landie se tenk was te min.

Ons kom teen skemer in Lusaka aan, en probeer by die eerste garage diesel kry, maar sonder sukses. Daar was geen diesel nie. Die vorige keer toe ons in Lusaka was, was daar ook ʼn tekort aan diesel. Gelukkig was daar ʼn BP garage by die Spar winkelsentrum, wat genoeg diesel gehad het vir albei ons voertuie.

Ons gaan koop toe kos in die baie groot en netjiese Spar winkelsentrum. Daarna ry ons in die donker tot by die Eureka kampplek. Die kampplek was feitlik vol kampeerders met so tussen ses en agt Overland vragmotors. Vanaand sou ons maar tussen die mense moet slaap en hoop hulle raas nie te veel nie.