Thursday, July 5, 2007

Dag 14, Donderdag 5 Julie, Serengeti tot Lake Victoria

Ons pak vanoggend alles op en vertrek na Lake Victoria, ons volgende slaapplek. Ons ry nou in ʼn westelike rigting waar daar nie veronderstel was om baie diere te wees nie. Net voor die Serengeti se westelike hek was ʼn groot deel wat afgebrand het.

Op pad na die hek hoor ek skielik ʼn harde klapgeluid agter by die Landy en skrik my natuurlik boeglam. “Wat sal dan nou weer die fout wees” het ek vir myself gevra. Nadat ek ondersoek ingestel het, kom ek agter dat die oliestreep wat ek by Ngorongoro Crater op die wiel gesien het, nie die ewenaar was nie, maar die linker agter skokbreker wat al sy olie verloor het. Die verligting was groot dat dit nie die ewenaar was nie, maar hoe om nou te maak met die skokbreker? Die klapgeluid wat ek gehoor het, was die regter skokbreker wat al besig was om sy laaste moer te verloor en die speling op die bout was toe al redelik groot. Die klapgeluid was die laaste moer wat teen die skokbreker klap. Die moer wat die ander een moet sluit, het al lankal afgeval omdat ek toe alreeds ʼn ent met net een skokbreker gery het en die een nie die swaar voertuig se las kon hanteer nie. Gelukkig het Poen darem ʼn moer gehad wat min of meer gepas het.

Ons het gehoop dit sal hou en ry toe maar verder. Ons het ʼn verlate Cheetah in die verte sien loop. Net soos by die Ngorongoro Crater moes ons ook hier in 24 uur terme betaal, so ons mag nie later as 15:00 uit die Serengeti wees nie.

Ons kom so 13:00 by die hek aan, wys ons betalingsbewys en ry toe Lake Victoria toe. Ons sou die aand slaap by die Serengeti Stop-over kamp wat 5km van die hek is, maar dit is reg langs die hoofpad wat tussen Musoma en Mwanza loop . Ons het toe ons inligting ingesamel het vir die toer, by Karel gehoor van die Nyatwale kampplek, maar kon dit nêrens op enige kaart sien nie, maar toe ons by die hek van die Serengeti uitry, sien ons ʼn groot bord wat die kampplek aandui. Dit was maar net so 10km ver.

By die Nyatwale kampeerplek is geen krag nie, maar wel lopende water. Ons kry toe ʼn lekker kampplek reg onder ʼn groot boom. Ons was die enigste mense in die kampplek. Die opsigter gee toe ook vir ons ʼn kamer met ʼn toilet en stort in. Die stort se water was veronderstel om warm water te wees maar of die donkie het nie gewerk nie of die opsigter het ons verkeerd verstaan toe ons vra of daar warm water was. Gelukkig was dit darem nie te koud nie en ons stort maar almal koud. Ons het so 50m vanaf Lake Victoria gebly, en die muskiete het ons vanaand weer net soveel gepla soos by Pangani Rivercamp, maar ons kon nie die geleentheid laat verbygaan om langs Lake Victoria te kamp nie. Poen het vir hom ʼn visstok gehuur en gaan maak toe ʼn paar gooie in die Lake Victoria sonder enige sukses.



Omdat ons so lekker vroeg by die kamp aangekom het, was dit ʼn ideale geleentheid vir die vrouens om klere te was. Later het Mariana gaan kyk hoe Poen visvang en op die bruggie na die meer het haar voet geglip en val sy binne in Lake Victoria. Sy het darem nie te ernstig seer gekry nie, net een van haar tone het seergekry.

Die aand maak Poen vetkoeke en Yvette kerrievleis en ons gaan slaap redelik vroeg. Na donker kan niemand buite wees nie, anders dra die muskiete jou weg. Ons was darem redelik veilig in die tente agter ons muskietnette.



Gedurende die nag was daar ʼn groot geraas wat seker vir 3 tot 4 ure geduur het. Iemand het die hele tyd kliphard gegil oor ʼn mikrofoon en dan so slag-slag baie onluisterbare Afrika musiek. Die volgende oggend het ons gehoor dat iemand gedoop is. Dit was die meeste wat ons nog gesteur was gedurende die hele toer, nie eers deur wilde diere nie.