Friday, June 29, 2007

Dag 8, Vrydag 29 Junie, Lusaka tot Mpika

Ons staan vanoggend vroeg op. Ons plan is om vandag tot by Kapishya Hotsprings te ry, omtrent 110 km anderkant Mpika.

Tydens die aanvanklike toerbeplanning, het ek op die internet gevra vir aanbevelings vir blyplekke en almal het ons afgeraai om in Mpika te slaap of dat daar geen verblyf is nie. Ons het in die Weg tydskrif gelees van die Kapishya Hotsprings en wou vanaand daar slaap en ons wou ook die oggend verkeer van Lusaka mis. Dit behoort chaos te wees.

Ons ry op die Great Northern Road wat die hoofpad is na die noorde en loop tot by die bekende Copperbelt. Die Copperbelt is waar Zambië se groot kopermyne is.

By Kapiri Moshi moes ons regs afdraai, maar daar was geen rigting aanwyser wat aandui dat jy moet regs draai nie. Gelukkig was daar ʼn padblokkade by die afdraai en een van die polisiemanne noem toe vir Poen dat die meeste Suid Afrikaners reguit aanry en nie regs draai nie. Gelukkig het ek darem net 50m te ver gery.

Net voor Mpika kry ons weer ʼn padblokkade waar ons 10000 kwachas moes betaal vir tolgeld en padbelasting vir die gebruik van die pad deur die dorp. Ek weet nie of dit wettig was nie. Dit was die enigste keer op die toer dat ons moes betaal. In Namibië op ons Kaokoveld toer moes ons gereeld betaal het by sommige plekke as ons foto’s wou neem, so hierdie was ook seker maar vir ʼn skool of vir eie gewin, gelukkig was dit darem nie baie geld nie. Ons stop weer en gooi diesel in en soek ʼn winkel wat darem skaflik lyk, maar kon niks vind nie. Ons was op soek na brood maar besluit om dit maar self te bak.

Ons vertrek verder na Kapishya Hotsprings, die afdraai is so 85 km vanaf Mpika. Vanaf die afdraai was dit nog ʼn verdere 35 km grondpad verby Shiwa Ngandu Africa Manor House tot by die Kapishya Hotsprings. Die pad loop tussen mooi rye bome en oor ʼn paar klein riviere. Die grondpad is darem nie te sleg nie. Ons het al baie erger grondpaaie gery.


Die grondpad na Kapishya Hotsprings.

Toe ons by die ontvangs van Kapishya Hotsprings stop, kom die eienaar ons baie vriendelik ontvang en vra dat die vrouens tog sy tuin moet gaan kyk. Die tuine was baie mooi met groen grasperke. Hier was definitief genoeg water vir besproeiing, niemand sou so iets in die middel van Zambië verwag het nie.


Kapishya Hotsprings kamp, Zambië.

Nadat ons betaal het, gaan slaan ons kamp op en maak aandete. Na ete gaan swem ons heerlik in die warmwaterbron. Die water is nie baie diep nie, maar heerlik lekker warm en ons lê soos seekoeie in die water.