Wednesday, July 4, 2007

Dag 13, Woensdag 4 Julie, Serengeti

Vanoggend maak ons lekker ontbyt en ry dan deur die Serengeti op die hoofpad na Lobo Lodge wat so 50 km van Seronera geleë is. Die pad is in ʼn noordelike rigting waar ʼn groot deel van die migrasie sal wees. Die migrasie van die diere wissel maar na gelang van die seisoene.
Ons sien groot troppe wildebeeste. Die idee wat ons op die televisie gekry het van groot grasvlaktes met migrerende diere, was eintlik ʼn wanindruk. Die deel van die Serengeti wat ons gesien het, was redelik boomryk met baie bosse, maar nie so dig dat ons geen diere kon sien nie.






Die foto’s en video kan ʼn mens ʼn goeie idee gee van hoe dit daar lyk, maar as jy dit nie self beleef nie, mis jy baie. In sommige dele kom ʼn mens by groot stukke veld waar al die bome se blare afgevreet is. As die kameelperde eers deur so ʼn strook veld geloop het, bly daar nie veel oor nie.
Die middag stop ons by Lobo Lodge vir ʼn Sampie breek en ry toe weer terug na ons kamp. Ons sien glad nie leeus nie en ook min olifante.
Terug by die Seronera, gaan stop ons eers by die toerisme winkel vir ʼn paar aandenkings.
Later die middag ry ons gou weer ʼn ent om diere te gaan kyk. Ons kom toe heel toevallig op twee leeus af wat taamlik ver die pad af was. Op pad terug ry ons verby twee hiënas. Die een het dragtig gelyk en die ander een het iets in sy poot gehad want hy het net op drie bene geloop. Hierna moes ons terugkeer kamp toe want geen voertuie mag na 19:00 buite die kampeerplekke wees nie.