Friday, July 27, 2007

Dag 37, Vrydag 27 Julie, Springbok tot Stellenbosch

Vanoggend was die laaste dag van ons toer. Dit het nog altyd gereën en sou vanoggend se rit bemoeilik. Ons eerste stop was in Klawer waar ons koffie gedrink het. Dit het nog heelpad gereën en die garage by Klawer was besig om met ʼn pomp die water weg te pomp wat al diep in die parkeerplek gelê het. Terwyl ons nog wag vir ons kos, ry Poen hulle solank verder om langs die pad te stop vir nartjies. Hulle sou vir ons langs die pad wag. Ons was almal haastig en kon nie meer wag om by die huis te kom nie en het net gehoop dat alles darem nog reg was by die huis.

Ons ry sonder om weer langs die pad te stop terug huis toe. Ons sê sommer vir mekaar op die twee-rigting radio’s totsiens, want om dit van aangesig tot aangesig te doen sou net ʼn tranedal veroorsaak het. Ons het meer as 15000 km gery sonder enige groot teenspoed en ons was net baie dankbaar dat ons veilig naby die huis was. Hierdie was ʼn toer wat permanent in ons gedagtes sal bly. Terug by die huis was almal baie bly om ons weer veilig terug te sien.

Thursday, July 26, 2007

Dag 36, Donderdag 26 Julie, Vryburg tot Springbok

Weereens staan ons vroeg op, maar vanoggend was dit bitter koud. Die voorruit van Poen se bakkie was kliphard gevries. Ons vertrek die oggend om 06:00 vanaf Boereplaas in die rigting van Vryburg. Ons het ʼn bespreking vir verblyf in Kakamas gehad, maar wou probeer ry tot in Springbok. Dit sou darem die volgende dag se rit korter maak. Dit was nog baie donker toe ons begin ry het en ons eerste stop van die dag was in Kathu waar ons diesel ingegooi het en ʼn ontbyt langs die pad genuttig het.


Myn toerusting by Kathu

Ek bel toe gou my pa dat hy weer vir Oom Wessie op Springbok moet bel om te hoor hoe die weer daar was. Ons wou graag tot by Springbok ry, maar as dit sou reën wou ons nie graag kamp nie. Volgens Oom Wessie was die weer mooi, maar daar was ʼn kans dat dit sou reën. Ons besluit toe om maar tot op Springbok te ry en die kans te vat.

Ons volgende stop was in Upington waar ons by Skaapland vleis gekoop het om te braai en ook sommer lekker biltong en droë wors. Skaapland van Upington is baie bekend vir hulle vleisprodukte. Ons ry verder tot in Keimoes, waar ons op die Kakamas pad in die dorp by ʼn winkel stop wat droë vrugte verkoop. Poen se ma het ʼn bestelling vir dadels gegee. Dit was definitief die moeite werd om by hierdie winkel te stop.


Die pad tussen Pofadder en Springbok

Die pad tussen Kakamas en Pofadder was maar baie eentonig met lang reguit dele. Ons ry maar verby die Augrabies waterval, want ons almal was onlangs daar. Net voor Springbok was daar mooi kolle blomme reg langs die pad. Daar het ʼn yskoue noordweste wind gewaai, wat definitief reën sou bring.

Nadat ons die voertuie weer vol diesel gemaak het, ry ons tot by die Springbok karavaanpark om te kyk of daar nie ʼn goedkoop huisie was wat ons kon huur vir die aand nie, maar alles was vol bespreek. Gelukkig het die eienaars ook die Boesmanland Gastehuis besit, wat vir ons elk darem ʼn kamer kon kry. Die plek was baie netjies en het ook veilige parkeerplek vir ons voertuie gehad. Ons besluit om maar in ʼn restaurant te gaan eet, dit sou te koud wees om vleis te braai. Toe ons uit die restaurant kom, het dit heerlik gereën en ons was maar net te bly dat ons nie gekamp het nie.

Wednesday, July 25, 2007

Dag 35, Woensdag 25 Julie, Francistown tot Vryburg

Vandag was ons laaste dag op die toer wat ons in ʼn ander land sou wees. Ons staan vroeg op terwyl dit nog donker is en breek die kamp af. Ons vertrek in die rigting van Gaborone en wou vanaand net voor Vryburg by Boereplaas gaan slaap. Mense wat ons die vorige aand in die Francistown kampplek gekry het, het die plek aanbeveel. Hulle kamp baie gereeld daar en was tevrede met die plek.

Ons ry maar versigtig na Gaborone, aangesien ons deur verskeie mense gewaarsku is om binne die spoedbeperking te hou. Ons het nou al sover gery sonder enige boetes.
Ons volgende stop was in Gaborone, waar ons weer die voertuie met diesel volgemaak het. Daarna gaan stop ons by ʼn drankwinkel, aangesien Poen van elke land se bier wou proe. Gaborone is ʼn groot stad met breë paaie. Gelukkig was daar baie goeie rigting aanwysers. Hier en daar kry ons nog ʼn padblokkade, maar geen voertuie is gestop nie. Die feit dat daar ʼn padblokkade was, was alreeds ʼn goeie afskrikmiddel.

Die volgende stop was die Botswana / Suid Afrika grenspos. Hier het ons die laaste Pula’s wat ons gehad het omgeruil in Rande. Die proses deur beide grensposte was gelukkig baie vinnig. Ons is net in die Suid-Afrikaanse deel gevra of ons enige braaihout het, ons mag dit seker nie ingebring het nie.

Ons stop by Mafikeng, trek geld en gaan koop vars brood en vleis vir die aand se braai. Die pad tussen Mafikeng en Vryburg was maar swak en daar was gereeld plekke langs die pad waar ons gestop is vir padwerke. Ons kom teen 16:00 se kant by Boereplaas aan. Die plaas is so 20 km voor Vryburg met groot grasperke, swembad en koeltebome.


Boereplaas kampplek tussen Vryburg en Mafikeng

Die plek was nog besig om ontwikkel te word en die stortgeriewe was nie van die beste nie. Ook, net soos in Francistown, het hier kontrakteurs gebly wat aan die pad gewerk het. Gelukkig was hulle nie raserig nie, maar die storte en toilette was nie baie skoon nie. Die eienaar van Boereplaas gee toe vir ons die sleutels van ʼn kamer waar ons die stort en toilet kon gebruik. Ons braai vir die laaste keer op die toer vleis en na ete gaan betaal ek en Poen gou ons verblyf, aangesien die persoon wat die geld moes ontvang, die middag nie beskikbaar was nie.

Tuesday, July 24, 2007

Dag 34, Dinsdag 24 Julie, Livingstone tot Francistown

Vandag wou ons probeer om tot by Nata te ry en kyk hoe laat ons daar sou aankom. As dit nie te laat is nie, wou ons probeer om liewer in Francistown te gaan slaap.

Ons moes egter eers met die berugte Kazungula veerboot oor die Zambezi. Ons het gehoor dat dit party dae tot drie ure kon neem om oor die rivier te gaan en ons wou so vroeg as moontlik daar kom.
Ons vertrek om 06:00 uit Livingstone en kom net na 07:00 by die Zambië grenspos aan. Soos ons al gewoond geraak het, was dit maar ʼn trae proses om alle dokumente te laat stempel. Eers nadat ons aan die verkeerde kant van die gebou ingegaan het en gestaan en wag het vir die beamptes, word ons reggehelp deur van die ander toeriste. Natuurlik was daar geen bordjies nie. Daarna moes ons wag vir die amptenare om op diens te kom. Daar was net een aan diens en kon nie alle mense hanteer nie.
Na ʼn halfuur se wag was ons darem deur die Zambië grenspos oppad na die Kazungula veerboot wat so 100m daarvandaan is. Dit het US$20 per voertuig gekos vir die veerboot. Gelukkig vir ons was daar nie baie voertuie nie en kon ons sommer dadelik toegelaat word om te ry tot bo-op die veerboot. Die veerboot vat gewoonlik twee vragmotors en vier kleiner voertuie. Die normale wagtyd vir die veerboot hang af van hoe laat jy daar kom en watter dag van die week dit is.

Na tien minute was ons aan die oorkant van die Zambezi en oppad na die Botswana grenspos. Daar was ʼn redelike klomp vragmotors aan die Zambië kant, maar gelukkig kon daar net een vragmotor op ʼn keer oor die veerboot. As daar nie baie motors is nie, sal dit altyd gou gaan.


Kazungula veerboot oor die Zambezi, Botswana

Aan die Botswana kant hoef ons toe nie meer die Carne de Passage te laat voltooi nie en was ons vinnig deur die grenspos. Ons betaal P50 per voertuig vir die pad permit en P20 per voertuig vir die padfonds. Die voertuie moes nou eers deur ʼn dam met water ry wat ontsmettingsmiddels en gif bevat het. Daarna moes ons almal een-een op ʼn mat gaan staan om ons skoene te laat ontsmet. Dit was om te voorkom dat daar Tsetsevlieg larwes oor die grens kom en ook om bek en klou seer te voorkom. Geen vleisprodukte en suiwelprodukte mag oor die grens in Botswana ingeneem word nie.
Ons sou vandag gereeld gestop word om deursoek te word. Terwyl ons die Botswana grenspos verlaat, het daar ʼn lang ry vragmotors gestaan en wag om deur die Botswana grenspos te gaan. Net anderkant die grenspos stop ons langs die pad en maak ʼn vinnige ontbyt en koffie.

Ons volgende stop was Nata waar ons die voertuie weer vol diesel gemaak het. Hier kon ons nou weer met ons kredietkaarte vir diesel betaal. Ons stop 10 km anderkant Nata by die Nata Lodge vir middagete waar ons almal hamburgers bestel. Die Nata Lodge is ʼn baie mooi plek met ʼn lekker restaurant en swembad. Die kampplekke is maar sanderig maar onder koeltebome.

Dit was net na middagete en ons besluit toe om tot by Francistown te ry, wat maar net nog 200 km verder was. Daar was ʼn paar plekke langs die pad waar ons by bek en klou seer hekke gestop is en gevra is of ons enige verbode items het. By twee geleenthede het van die beamptes binne in die Landie geklim en in die yskas gekyk vir vleis of suiwelprodukte.
So vyftien km voor Francistown is die Woodlands Stop-over kampplek. Ons ry gou daar in om te gaan kyk hoe dit lyk. Dit is 7 km vanaf die teerpad met ook ʼn kleinerige swembad en lekker groen grasperke en hier en daar ʼn koelte- boom.


Cresta Marang Motel kampplek, Francistown, Botswana

Die plek was net te ver vanaf Francistown en ons besluit toe om maar ʼn kampplek in Francistown te gaan soek. Ons ry tot by die Cresta Marang Motel, wat ook ʼn casino is, met ʼn lekker groot kampplek. Daar is ook groot grasperke en baie koeltebome. Die kampplek is omhein met paaltjies. Ongelukkig is hierdie kampplek binne in Francistown en word dit baie deur kontrakteurs gebruik as goedkoop verblyf. Hulle kan maar redelik raserig wees. Daar is 24 uur sekuriteit by die kampplek.
Nadat ons ingeboek en die tente opgeslaan het, ry ons en gaan koop vleis om te braai by die Spar. Ons wou lekker Botswana steaks braai. Die kampplek het die aand sommer redelik vol geword aangesien dit ʼn baie gewilde plek is. Daar was ʼn wag wat die hele nag vuur gemaak en met sy hond deur die kampterrein gestap het.

Monday, July 23, 2007

Dag 33, Maandag 23 Julie, Livingstone

Vanoggend kon ons ʼn bietjie later slaap. Ek en Poen ry gou dorp toe, om sommer by die Spar eiers en spek vir ontbyt te gaan koop. Daarna stop Poen by ʼn garage om te reël sodat sy bakkie se olie afgetap kon word.

Terug by die kamp maak ons ʼn lekker ontbyt en terwyl Poen sy bakkie se olie laat aftap, bly die res van ons in die kamp om net rustig te wees.
Na middagete ry ons na die Victoria Valle se stalletjies om te kyk of daar nie nog aandenkings was wat ons gemis het nie. In Livingstone is daar ʼn winkel wat ons geld kon omruil na Botswana Pula. Ons stop toe daar en ruil elkeen US$50 om. Ons wou nie wanneer ons by die Zambië / Botswana grenspos kom, sukkel om geld om te ruil nie en wil net probeer om so vinnig as moontlik op die veerboot te kom.
Later die middag vertrek ons na die African Queen vir ons rit op die Zambezi.


African Queen op die Zambezi, Livingstone, Zambië


Ons klim eerste op die boot om die beste sitplekke te kry. Terwyl ons wag vir die ander toeriste, word ons al bedien met drankies. Al die drank tydens die rit was ingesluit by die prys. Sodra dit net gelyk het of ons glase half leeg was, is dit weer volgemaak. Terwyl die boot so stadig gevaar het, was daar ʼn stem op, seker maar ʼn cd, wat ons meer vertel van die rivier en die plekke langs die rivier. Wanneer daar diere gewaar is, het een van die bemanning dit oor die luidsprekers aangekondig. Die boot het amper twee ure geneem om te op te vaar in die rivier. Daar was ʼn paar ander bote saam met ons op die rivier wat toeriste vir die sonsondergang rit geneem het. Ons boot het maar baie rustig gevaar in vergelyking met die ander bote.


African Queen op die Zambezi, Livingstone, Zambië

Na ʼn rukkie het ons almal ʼn bordjie kos gekry, maar dit was definitief nie genoeg vir my en Poen nie. Daar was heelwat seekoeie in die rivier. Aan die oorkant van die rivier kon ons in die verte die Elephant Hills hotel in Zimbabwe sien. Dit sou maar seker duur wees om daar te kon bly, maar nie een van ons het ʼn begeerte gehad om in Zimbabwe in te gaan nie.

Toe dit sononder word, het die boot dwars gedraai in die Zambezi en vir almal ʼn baie mooi uitsig gegee oor die sonsondergang oor die Zambezi. Die mense het foto’s geneem asof hulle nooit weer die son sou sien sak nie. Dit was ʼn besonderse mooi uitsig.


African Queen op die Zambezi, Livingstone, Zambië

Nadat die son onder was, en almal klaar foto’s geneem het, het die boot gedraai en het dit teen ʼn heelwat vinniger tempo teruggevaar na die kaai. Die aand wou niemand op die rivier wees nie, die muskiete sou ons wegdra. Na die bootrit gaan ons terug kampplek toe en eet aandete. Ons wou die volgende oggend vroeg opstaan om so vroeg as moontlik by die veerboot te wees.

Sunday, July 22, 2007

Dag 32, Sondag 22 Julie, Lusaka tot Livingstone

Vandag wou ons ry tot by Livingstone, op die pad wat ons al gery het met die begin van die toer, en ons het geweet wat om te verwag. Gelukkig het die Overland mense die vorige aand nie laat geraas nie, en kon ons ʼn goeie nagrus kry. Vandag wou Poen kyk of hy nie ʼn paar sakke houtskool kon koop om saam te neem huis toe. Ek was ook op soek na die kap byle wat die mense gebruik om die houtsneewerke te maak en het die hele toer net dit gesien op die pad tussen Lusaka en Livingstone.

Ons twee-rigting radio’s het ons nou begin probleme gee en die reikafstand was minder as 100m. Ons stop langs die pad en ek sit toe ʼn spaar antenna op Poen se bakkie, maar dit was nie suksesvol nie. Die laaste stuk pad net voor Livingstone, wat voorheen vol slaggate was, was gelukkig nou gedeeltelik opgevul met grond.

Ons het beplan om vandag tot by die Maramba River Lodge te ry en te probeer kampplek kry vir twee dae. Voorheen was die kampplek vol en dit was die plek wat die meeste mense vir ons aanbeveel het. Ons was gelukkig en kon vir twee dae plek kry. Die kampplek het baie mooi geriewe, maar die kampplekke is maar baie eenvoudig met die toilette redelik ver daarvandaan. Daar was ook genoeg koeltebome om te kamp. Die kampplek is teen een van die Zambezi se sytakke. Daar was baie ape en bobbejane wat rondgeloop het en van hulle het ons vullisdromme omgegooi. Ons moes maar alle kos wegpak.

Ons ry die middag eers na die houtsneewerk stalletjies binne in Livingstone op soek na die laaste paar geskenke en aandenkings.


Maramba River Logde kampplek, Livingstone, Zambië

Daarna stop ons by die African Queen waar ons kaartjies koop vir die volgende dag se bootrit op die Zambezi. Daarna keer ons terug na die kampplek waar ons die aand ʼn groot vuur maak en lekker vleisbraai.

Saturday, July 21, 2007

Dag 31, Saterdag 21 Julie, Senga Bay tot Lusaka

Vandag staan ons vroeg op. Ons wou kyk of ons tot by Lusaka kan ry. Gelukkig het ons geweet waar die Eureka kampplek was en sou dit selfs in die donker maklik kon vind.

Ons eerste stop was in Lilongwe, waar ons probeer diesel ingooi het met dollars, maar geeneen van die garages wou dit aanvaar nie. Dit was seker maar net die garage in Salima wat US dollars aanvaar het. Lilongwe is ʼn groot stad met baie goeie paaie.

Ons vertrek na die Malawi / Zambië grenspos. By die grenspos ruil ons dollars vir Zambiese kwachas en laat stempel ons paspoorte. Ons laat ook die Carne de Passage voltooi en betaal weereens vir die gebruik van die Zambiese paaie. Eers nadat ons klaar betaal het, kom ons agter dat die bedrag wat ons betaal het toe ons Zambië vanaf Namibië binnegekom het, nog geldig was. Toe ons vra dat hulle ons geld teruggee en die betaling kanselleer, doen die beampte dit sonder enige besware.

Die pad was in ʼn goeie toestand tot by Chipata, maar daarna was dit weer net slaggate waar jy kyk. Ons ry maar stadig tot by Petauke. Ons wou vandag tot by Lusaka ry, maar as die pad so swak bly, sou ons baie laat in Lusaka aankom. Gelukkig het die pad verbeter tot in Lusaka.

Later die dag ry ons met die Luangwa brug oor die groot Luangwa rivier, wat baie naby aan die Mosambiek grens is. Toe ons aan die anderkant van die brug stop, was daar ʼn soldaat met ʼn AK-geweer wat ons 3de party versekering wou nagaan. Daarna kon ons verder ry, maar Poen moes eers verduidelik hoekom hy nie gewag het totdat ons klaar oor die brug was nie. Daar mag net een voertuig per keer op die brug wees. Die regering probeer om die brug solank as moontlik in ʼn goeie toestand te hou.
Nêrens op pad na die brug het ons enige kennisgewing gesien oor die aantal voertuie op die brug nie. Snaaks genoeg, agter Poen het ʼn ou bakkie gery van een van die plaaslike mense. Hierdie bakkie is sonder probleme deurgelaat. Dit het net weer eens vir ons gewys dat toeriste in hulle spore moet trap.

ʼn Ent anderkant die brug stop ons langs die pad, waar ek uit die jerrykanne diesel ingooi. Dit was nog ʼn redelike ent Lusaka toe en die diesel in die Landie se tenk was te min.

Ons kom teen skemer in Lusaka aan, en probeer by die eerste garage diesel kry, maar sonder sukses. Daar was geen diesel nie. Die vorige keer toe ons in Lusaka was, was daar ook ʼn tekort aan diesel. Gelukkig was daar ʼn BP garage by die Spar winkelsentrum, wat genoeg diesel gehad het vir albei ons voertuie.

Ons gaan koop toe kos in die baie groot en netjiese Spar winkelsentrum. Daarna ry ons in die donker tot by die Eureka kampplek. Die kampplek was feitlik vol kampeerders met so tussen ses en agt Overland vragmotors. Vanaand sou ons maar tussen die mense moet slaap en hoop hulle raas nie te veel nie.

Friday, July 20, 2007

Dag 30, Vrydag 20 Julie, Senga Bay

Vanoggend maak ons ontbyt met die eiers wat ons gisteraand gekoop het. Vandag gaan ons kyk hoe dit by Monkey Bay en Cape McClear lyk. Dit is ʼn teerpad tot by die afdraai van Monkey Bay. Hier by die afdraai is daar baie mooi houtsneewerke. Ons stop daar en kyk of daar iets was wat ons wou koop.


Houtsneewerke oppad na Monkey Bay, Malawi

By Monkey Bay is daar ook houtsneewerke maar ons wou net solank die pryse vergelyk. Die pad daarvandaan tot by Monkey Bay was seker jare gelede ʼn teerpad. Tans is dit net ʼn slegte grondpad met hier en daar nog teerkolle. Gelukkig was daar darem nie baie verkeer op die pad nie, sodat ons die beste dele van die pad kan kies om op te ry. Soms moes ons sommer aan die regterkant van die pad ry. Net voor Monkey Bay was daar weer ʼn stukkie teerpad, maar weereens vol slaggate. Op die stuk teerpad sien ons toe ʼn Toys R US bordjie, met klein motortjies gekerf uit hout. Ons besluit ons sal daar stop as ons terugkom. Ons stop by die houtsneewerke net voor Monkey Bay, waar Poen ‘n sleutel met ʼn paar mense se name op, laat maak. Ons sou as ons terugkom van Cape McClear dit optel. Ons ry verder tot by Monkey Bay en koop lekker koue koeldrank by die winkeltjie. Monkey Bay is maar klein en daar gaan nie veel aan nie. Ons plan was om tot by Cape McClear te ry, maar ons stop eers by die Nature Conservation se kantoor om te vra wat daar te siene is by Cape McClear.

Daarna vertrek ons na Cape McClear met ʼn smal grondpad wat tot by Cape McClear loop. Hier is die Fat Monkey Lodge en ook Club Makakola. Ons stop by die Fat Monkey Lodge. Vanaf Cape McClear gaan daar bote wat duikers uitvat en hier kan ook paragliding gedoen word. Beide hierdie plekke was baie mooi en ons sal graag in die toekoms hier wil kom bly vir so ʼn dag of twee.

Ons ry terug Monkey Bay toe, en stop langs die pad vir ʼn vinnige middagete. Terug by die Monkey Bay stalletjies koop ons nog ʼn paar houtsneewerke en ry stadig terug Senga Bay toe met die slegte grondpad. Ons stop ook gou vinnig by die Monkey Bay afdraaipad en koop die laaste van die houtsneewerke op die toer.

Ons volgende stop was by Salima waar ons die voertuie vol diesel maak. Die volgende dag wou ons vroeg opstaan en tot by Lusaka ry. Daar sal nie dan tyd wees vir diesel ingooi nie. Ons kon met US dollars betaal, een van die min garages wat US dollars aanvaar het. Daarna ry ons terug na Senga Bay. Net voor Senga Bay is daar stalletjies wat mooi gevlegte artikels van riet en gras verkoop.


Stalletjie met gevlegte artikels tussen Salima en Senga Bay

Ons ry verby die Cool Runnings afdraai en gaan kyk hoe lyk dit by Livingstonia Beach Camp. Hierdie kamp is groter as Cool Runnings, maar daar is feitlik geen gras nie. Die kamp is reg langs die meer, en lyk baie mooier as Cool Runnings. Volgende keer sal ons hierdie plek probeer.

Toe ons terugkom by Cool Runnings, moes ons plek begin soek vir al die nuwe aandenkings en presente wat ons gekoop het. Die groot houtsneewerke het ons in warm baadjies toegerol en op plekke waar dit nie kon breek nie, ingedruk. Elke spasie wat ʼn moontlike pakplek was, word benut. Ons sou nie nou baie meer aandenkings kon koop nie.

Die aand braai ons van die steaks wat ons in Nairobi gekoop het. Terwyl ek en Poen by die vuur sit was die kinders besig om iets op te warm te maak op een van die gasstofies. Skielik was daar vlamme rondom die stofie. Poen spring op en storm nader, maar sien nie die ankertou van die een tent nie. Hy val oor die ankertou bo-op die tafel, wat weer met stofie en al bo-op hom val. Poen het sy hemp baie vinnig uitgetrek om te keer dat dit nie aan die brand slaan nie. Gelukkig het hy darem nie baie seer gekry nie, net die tafel het vir ʼn tweede keer tydens die toer ʼn bietjie skade gely.

Thursday, July 19, 2007

Dag 28, Donderdag 19 Julie, Chitimba tot Senga Bay

Vandag ry ons tot by Senga Bay, waar ons by Cool Runnings vir twee dae gaan oorbly. Hierdie kamp kon ek glad nie op die Tracks4Africa kaarte kry nie. Ons vertrek vanaf Chitimba met ʼn baie steil pad, wat al langs die berg uitkronkel. Hier van bo-af kon ons ʼn baie mooi uitsig kry oor die Malawi meer en sou ons seker maar net so ʼn uitsig gehad het vanaf Livingstonia Mission.


Uitsig oor die Malawi meer naby Chitimba, Malawi

Die pad draai weg van die meer af en loop deur die berge tot by Mzusu. Hier gooi ons diesel in en stop by ʼn winkel op soek na brood, maar kon nie vars brood kry nie en koop toe maar ʼn klomp bottels water. Anderkant Mzusu het die pad begin nouer raak en sak ons af in die rigting van die meer.
Net voor die Nkhata Bay afdraai is daar ʼn klomp houtsneewerk stalletjies. Hier koop ons toe ʼn klomp geskenke. Baie van die mense wou sommer kledingstukke ruil vir houtsneewerke en van hulle wou ook sommer in Suid-Afrikaanse Rand betaal word. Ons ry gou na Nkhata Bay om te gaan kyk hoe dit daar lyk.


Rubberboom plantasie naby Nkhata Bay, Malawi

Op die pad na Senga Bay ry ons ʼn plantasie rubberbome binne, waar ons stop om van die rubberballe te koop. Net ʼn entjie verder stop ons langs die pad, waar daar nie iemand was wat ons kan lastig val nie en eet middagete. Na ons aankope van vroeër was die pakplek in die voertuie nou maar min. Net voor Salima sien Poen hulle kinders staan met klein swart goedjies op stokke ingeryg. Hy stop om ondersoek in te stel en groot was sy verbasing toe hulle sien dit was ʼn klomp muise wat gebraai was en soos vleis op ʼn sosatie stokkie ingedruk was.


Muise soos sosaties op ‘n stokkie

Nie een van ons het kans gesien om dit te eet nie, maar ons glo daar sal tog mense wees wat dit al geëet het. In Salima stop ons by ʼn winkel en koop eiers vir die volgende dag se ontbyt.
Net voor Senga Bay sien ons nou die eerste rigtingaanwyser teen die pad wat die afstand na Cool Runnings aangedui het. Cool Runnings is net voor jy Senga Bay inkom, aan die regterkant van die pad, teen die Malawi meer. Om by die kampplek uit te kom, ry ons tussen ʼn klomp modder baksteen huise op ʼn poeierstofpad tot by die hek van Cool Runnings. Net soos by meeste van die ander kampplekke op die toer, skep die buitekant van die kampplek nie ʼn goeie indruk nie. Binnekant is daar baie mooi groen grasperke met hoë koeltebome.


Cool Runnings kampplek, Senga Bay, Malawi

Daar is spoeltoilette en warmwater storte. Daar is ook elektrisiteit vir die yskaste. Die kampplek het ook sy eie restaurant, maar ons was van plan om ons eie kos te maak.

Wednesday, July 18, 2007

Dag 27, Woensdag 18 Julie, Iringa tot Chitimba

Vandag is ons laaste dag in Tanzanië en ons ry tot in Malawi waar ons eers slaapplek moet gaan soek. Ons was van plan om tot by die Livingstonia Mission bo-op die berg te ry en daar te kamp, maar die pad is blykbaar baie steil en ons het nie geweet hoe laat ons daar sou wees nie. Net voor Mbeya waar die pad afdraai na Malawi, gooi Poen gou met sy laaste Tanzaniese Sjielings diesel in. Die pad na Malawi loop oor baie mooi heuwels met groot aartappel, piesang en tee landerye langs die pad.

Tee plantasies anderkant Mbeya, Tanzanië

Tanzanië is een van die Afrika lande wat kan bekostig om landbou-produkte uit te voer. Net voor die Tanzanië / Malawi grenspos ruil ons geld om vir Malawiese kwachas. Dit gaan vinnig deur die Tanzaniese deel van die grenspos, maar by Malawi moes alle voertuie se registrasienommers eers neergeskryf word deur amptenare wat nie baie haastig was nie. In die doeane-kantoor moes ons eers wag vir die man wat ons Carne de Passage kon stempel. Daarna moes ons voor die hek wag totdat iemand ons Carne de Passage weer kon nagaan voordat ons verder kon ry. Aanvanklik het die pad baie slaggate gehad, maar later word dit ʼn goeie teerpad wat al langs die Malawi meer loop. Ons ry tot by Chitimba en besluit om sommer hier te kamp.

Op die strand by Chitimba, Malawi

Die kampplek is reg langs die meer met ʼn groot stuk wit strand, met ʼn ry mooi pers bougainvilleas teen die kant. Hier was baie Overland vragmotors. Die ablusie fasiliteite is nie genoeg vir al die kampeerders nie, maar daar is darem spoeltoilette en storte. Die kampplek het groot koeltebome met afdakke waar kos gemaak kan word. Daar is ook ʼn kroeg op die strand wat yskoue koeldranke en bier verkoop. Op die strand was dit winderig en die water van die meer was maar koelerig, niemand van ons het kans gesien om te gaan swem nie. Die boeke wat ons gelees het, het ons gewaarsku teen bilharzia. Daar was ook baie plaaslike mense wat ons op die strand lastig geval het.

Chitimba kampplek, Malawi

Net buite die kampplek is daar houtsneewerk stalletjies. Die pryse van die bakke was van die goedkoopste en die kwaliteit was baie goed. Ons besluit toe om liewer die volgende dag langs die pad te stop vir houtsneewerke. Een van die Overland vragmotor bestuurders het ons aangeraai om eerder by Nkhata Bay te stop. Ons het besluit om maar nie Livingstonia Mission toe te ry nie, dit sou te lank neem en ons wou eerder net rustig wees. Vanaand was daar frikkadelle op die spyskaart. Dit was vanaand die enigste aand tot dusver op die toer dat die Overland toeriste geraas het tot laat in die aand. Daar is ʼn paar van hulle wat persoonlike probleme met mekaar gehad het en dit wou uitsorteer.

Tuesday, July 17, 2007

Dag 26, Dinsdag 17 Julie, Dar Es Salaam tot Iringa

Vanoggend gaan ons die pad wat ons oorspronklik moes ry, toe ons vanaf Chalinze Dar Es Salaam toe gery het, probeer. Die pad was veronderstel om ons darem vinniger uit die stad te neem. Die oggend reën dit weer liggies.
Dit neem ons amper twee ure om vanaf Dar Es Salaam tot by Chalinze te ry. Hier en daar kon ons Chinese sien wat besig was om die Tanzaniese regering te help met die bou van groot brûe en die herstel van die paaie. Ek wonder hoeveel geld China hier in Afrika spandeer, daar moet tog iets wees wat hulle sal wil terugkry uit die investering. Daar was redelik baie verkeer op die pad en ons kon nie maklik die stadiger voertuie verbysteek nie.


Pad stalletjie tussen Dar Es Salaam en Iringa, Tanzanië

Langs die pad was daar baie stalletjies wat groente en vrugte verkoop het. Poen wou baie graag kokosneute koop. Ons stop toe langs die pad waar Poen toe sommer ʼn klomp tamaties, piesangs en kokosneute koop. Hy koop ʼn emmer vol tamaties en toe hy dit wil omruil vir ʼn kleiner emmer wou die persoon wat die tamaties verkoop dit nie doen nie, hy verloor seker dan op die transaksie. Ek het net gehoop Poen het pakplek vir al die klomp tamaties, hy sal moet tamaties eet tot dit by sy ore uitloop. Vanaand wil hy ʼn tamatie roosterbroodjie eet.

Anderkant Morogoro en net voor die Mikumi Nasionale park stop ons langs die pad by stalletjies wat gevlegte mandjies verkoop. Ons ry toe ʼn deel van die pad wat ons gery het toe ons oppad was na Serengeti toe. Net anderkant die Mikumi Nasionale park stop ons om hout te koop, ons was nie seker of ons maklik hout in Malawi sou kon kry nie.


Kremetartbome tussen Morogoro en Iringa, Tanzanië

Ons ry weer verby al die klomp mooi kremetartbome wat so teen die rivier staan. Ons volgende stop was in Iringa waar ons diesel ingegooi het. Die vorige keer het ons by Iringa Riverside kamp gebly, maar ons wil vandag Kisolanza farm probeer.
So 10 km anderkant Iringa aan die linkerkant van die pad is daar die Isimila Stoneage Site, ons ry toe gou daar in om te kyk of ons iets interessants sien, maar ons moes stap tot by die uitgrawings. In die inligtingskantoor sien ons toe ʼn paar van die klipmesse en byle, maar niks besonders nie.
Ons ry verder na Kisolanza farm wat nog so ʼn verdere 30 km was. By die Kisolanza farm is daar netjiese kampplekke onder bome met groot oop areas om op die grond te kan braai. Daar is ook netjiese warmwater storte en put-toilette, maar geen elektrisiteit nie. Daar is ook huisies vir mense wat nie wil kamp nie.


Poen besig om tamaties te eet by Kisolanza farm, Iringa

Poen gebruik die geleentheid om vanmiddag van die tamaties te eet wat hy langs die pad gekoop het. Hy skil dit af om seker te maak dat dit skoon is. Volgens hom het dit baie lekker gesmaak. Die aand braai ons hoender en roosterbrood.

Monday, July 16, 2007

Dag 25, Maandag 16 Julie, Nungwi tot Dar Es Salaam.

Vanoggend moet ons die taxi om 08:00 voor die kantoor kry om ons terug te neem na Stone Town. Ons veerboot vertrek 10:00 en dit is so ʼn een uur se rit met die taxi tot by Stone Town.
Ons vaar vandag terug met die Sea Star wat ook twee dekke het. Ons sit weer op die boonste dek, maar hierdie keer was die dek buite met net ʼn seil oor. Hoe dieper ons die see ingevaar het, hoe rowwer het die see begin word. Een van die boot se bemanning het begin om klein swart sakkies uit te deel vir die mense. Amper almal van ons het op ʼn stadium nie lekker gevoel nie. Die skipper het sy bes probeer om die stilste waters uit te soek.


Op die veerboot terug vanaf Zanzibar, almal is maar hartseer.

Poen het maar swaar gekry. Langs ons het daar toeriste gesit en een van die vrouens het maar siek gelyk en ons het almal gewag dat sy moet opgooi. Dit sou natuurlik veroorsaak het dat die van ons met swak mae, ook sou opgooi. Ek het maar solank as moontlik vasgebyt en gehoop dat die vaart so vinnig as moontlik moet verbygaan. Dit het ons amper twee dae geneem om weer normaal te voel. Vir iemand wat die see gewoond is sou dit nie snaaks wees nie, maar vir ons groentjies was dit ʼn nagmerrie ondervinding.

Terug by Dar Es Salaam, het ons die taxi drywer gekry met wie ons afgespreek het om ons te kom haal. Ons ry toe almal met sy bussie na Erik se huis. Daar was die yskas in Poen se bakkie nog kliphard gevries na drie dae. Dit wys jou hoe lank kan ʼn yskas koud bly as dit nie oopgemaak word nie. Ons stop by ʼn garage en maak die voertuie vol diesel en gaan ruil ook geld om by ʼn Bureau de Change. Daarna ry ons terug na Kipepeo Beach om weer vir nog een aand daar te gaan slaap.

Ons stop eers langs Kipepeo Beach by Sunrise Beach, maar hier was die kampgeriewe nie so goed as by Kipepeo Beach nie. Die mense maak meestal voorsiening vir toeriste wat in strandhuise bly. By Kipepeo Beach kry ons toe dieselfde staanplek wat ons drie dae tevore gehad het. Ons gaan eet eers almal ʼn hamburger in die restaurant voor ons tente gaan opslaan. Vanaand wou ons die yskaste so koud as moontlik stel terwyl daar kragtoevoer was. Die kragtoevoer was egter so swak dat beide yskaste soms afskakel as die toevoer te min raak. Ons besluit toe om die yskaste maar weer op battery krag te laat loop teen ʼn hoër temperatuur.

Sunday, July 15, 2007

Dag 24, Sondag 15 Julie, Nungwi

Vanoggend na ontbyt gaan stap ons eers in ʼn noordelike rigting langs die strand tot waar hulle aan die dhows werk. Ons sien ʼn klomp vrouens wat met skerpgemaakte stokke na die water stap. Hulle het seker na seekos vir die restaurante gesoek.


Nungwi Strand, Zanzibar

Daarna stap ons in ʼn suidelike rigting verby Nungwi tot by Kendwa strand, waar ons die vorige dag met die dhow was. Die strand was baie mooi met wit sand en turkoois water. Daar was baie stalletjies op die strand en ons doen toe sommer nog ʼn paar inkopies. Die see het weer soos die vorige dag ver teruggetrek, en dit was duidelik dat ons tydens hoogwater nie via die strand kon terugstap Nungwi toe nie.
Op pad terug vanaf Kendwa begin so ’n lekker ligte koel reëntjie val. Naby Nungwi was daar ook ʼn klomp stalletjies. Ons loop tussen die stalletjies rond en speel die mense se pryse teen mekaar af. Meeste van hulle verkoop maar dieselfde goed en ons probeer maar altyd vir die beste prys soek.

Na middagete gaan rus ons eers weer vir ʼn kort rukkie, ons sal nie nou weer na middagete kan slaap voor ons terug is in Suid Afrika nie. Die aand eet ons ‘n laaste groot bord seekos op Zanzibar. Ons gaan die kos mis, maar ons sal weer oor ‘n paar jaar terugkom Zanzibar toe.
Laat in die aand kon ons al die mooi dhow liggies ver op die diep see sien. Die vissermanne sien vir baie kans, deur so ver vanaf die land te gaan met sulke swak bote en sonder enige lewensredding toerusting.

Saturday, July 14, 2007

Dag 23, Saterdag 14 Julie, Nungwi

Vandag gaan ons snorkel duik. Die see was nie rof nie, daar het net so ʼn ligte windjie gewaai en dit was effens betrokke. Ons kry toe die man wat die duik gereël het by die see en gaan eers na ʼn duik winkel waar ons elkeen paddavoete en ʼn duikbril uitsoek vir die dag. Dit was laagwater en die see het ver teruggetrek. Ons moes so 50m in die vlak water stap voordat ons by die boot, wat ʼn Dhow genoem word, uitkom. Poen het sommer dadelik daarop aangedring om die Dhow self te skipper.


Poen agter die stuur van ‘n Dhow

Dit sou help teen seesiek. Saam met ons op die Dhow was twee meisies van Ierland wat in Tanzanië onderwys gee. Die boot het ʼn kort bo-dek gehad. Ek het sommer daarop geklim vir ʼn mooi uitsig. Poen skipper toe die boot, terwyl die eienaar wys waarheen om te vaar. By die duikplek gekom, moes die dhow eers geanker word. Toe die dhow begin skommel het Poen sommer dadelik begin naar voel. Hy spring toe af in die water met sy duikbril en paddavoete, maar dit het nie regtig gehelp nie. Die res van ons het rustig rondgeswem op kyk na die klein skole vissies. Die eienaar van die boot het klein stukkies kos in die water gegooi wat die vissies gelok het.


Poen en Mariana op die Dhow


Ons duik ekspedisie op Zanzibar

Die sig in die water was baie goed. Hierdie was my eerste duikpoging, nadat ek op ʼn ouderdom van sestien die kreefduik-sport vaarwel geroep het. Hierdie was darem ander toestande as die koue water van die Atlantiese oseaan teen die Weskus.
Nadat ons sowat ʼn halfuur in die water was, is ons na die strand naby Kendwa met die dhow. Deel van ons duikpakket was ook ʼn ligte maaltyd op die strand. Die maaltyd het bestaan uit papaja, pynappel en kokosneute. Die kokosneute was in stukke opgesny. Ons het nie geweet dat ons die kokosneute met die bruin dop kan eet nie. Poen was nie gretig om op die dhow terug te vaar nie, en wou sommer terugstap. Ons kon hom darem gelukkig oorreed om saam met ons terug te vaar.
Op die terugvaart het die wind van agter gewaai en ons seil toe saam met die wind terug na Nungwi toe. Op die pad terug na ons slaapplek sien ons ʼn restaurant wat “Eat as much as you can” vir US$10 adverteer.


Middagete na die duik by Kendwa

Ons bespreek sommer dadelik vir ons plek in die restaurant. Die middag gaan eet ons in die Fat Fish restaurant, waarna ons eers weer ʼn bietjie gaan rus voor die volgende eetsessie.
Later die middag gaan stap ons in die dorp rond en koop vir ons koeldrank en mango’s in ʼn plaaslike winkel. Die koeldrank was maar warm, dit word nie koud verkoop nie. Ons stap tussen al die stalletjies langs die pad en gaan drink later koffie en eet sjokolade- koek by een van die kafees.
Na ons gebruiklike sonsondergang drankie, gaan ons na die buffet restaurant toe. Van die mense het sommer op die strand by tafels gesit. Die kostafels was ook op die strand.


Besig om sjokolade koek en koffie te geniet op Zanzibar
Die kos in die bakke het min gelyk en ons het maar gehoop daar sal nog kom. Toe ons ʼn tweede bord wou gaan inskep, was die meeste van die lekker seekos al op. Nadat hulle bevestigend geantwoord het op Poen se navraag, drink ons maar intussen nog ʼn bier. Daar was egter geen teken van ekstra kos nie. Ons was nie die enigste mense wat oor die hoeveelheid kos gekla het nie en betaal toe nie die volle bedrag van US$10 per persoon nie. Toe ons by hulle advertensiebord met die spyskaart verbystap was die deel van “Eat as much as you can” doodgevee! Hierdie restaurant sal ons vir niemand aanbeveel nie. Die hoeveelheid seekos by die ander restaurante was baie meer en ook baie lekkerder. Teleurgesteld gaan slaap ons maar die aand na al die dag se aktiwiteite.

Friday, July 13, 2007

Dag 22, Vrydag 13 Julie, Dar Es Salaam tot Nungwi

Ons staan vanoggend weer vroeg op en gaan met die pad om die Skiereiland ry tot by die Zanzibar veerboot en wou nie laat wees vir die veerboot nie. Ons het ook nie geweet hoe besig die verkeer gaan wees nie. Ek en Poen gaan laai eers die vrouens en kinders by die veerboothawe af.
By die veerboot-hek word alle bagasie eers deurgesoek, seker maar vir wapens en dwelms. Nadat ons die man gesoek het wat ons die vorige dag gehelp het, kry ons darem later een van sy vriende wat van sy taxi’s bestuur om ons by Erik se huis te gaan haal. Blykbaar het ʼn motor hom die vorige dag gestamp terwyl hy voor ons met sy motorfiets gery het, dit was darem nie te ernstig nie. Ons ry toe na Erik se huis en los die twee bakkies daar. Ons het alle kos in Poen se yskas gepak en het maar gehoop dat dit na drie dae nie sou ontdooi het nie.

Met die taxi ry ons toe terug na die veerboothawe en wag vir die veerboot in die vertreksaal, wat maar eintlik net ʼn afdak met banke was. Die veerboot was vasgemeer by die kaai en het darem nie te sleg gelyk van die kant af nie. Daar was nog ʼn veerboot, die Flying Horse in die hawe. Dit was ʼn baie groot veerboot, maar dit was baie oud en verwaarloos. Die Flying Horse neem sowat vier ure tot by Zanzibar en die ander veerbote so tussen 1hr45min en 2 ure. Ek sou niemand aanbeveel om op die Flying Horse te gaan nie. Toe die tyd aanbreek dat ons op die veerboot moes klim, het almal maar saamgebondel en in die pad na die veerboot begin staan. Gelukkig was daar darem iemand wat die kaartjies nagegaan het.


In die veerboot oppad Zanzibar toe.

Ons sitplekke was darem op die boonste dek en bespreek vir ons. Daar was nie baie mense op die boonste dek nie, maar onder was die veerboot vol mense. Dit is seker maar baie bedompig onder in die veerboot. Daar was geen teken van koeldranke en koekies nie. Hulle speel toe vir ons ʼn video en daarna ‘n tweede een maar dit het net halfpad klaar gemaak, toe ons by Zanzibar aankom. Die televisies en die gehalte van die video was maar baie swak en oud. Poen het nie sy oë van die televisie afgehaal nie, hy was maar bang hy word seesiek. Gelukkig was die veerbootrit nie te stamperig nie en het nie een van ons seesiek geword nie.

By Zanzibar hawe was daar weer ʼn samedromming van mense wat gewag het vir die veerboot. Orals was daar ook portiere wat ons wou help met ons tasse maar ons het net rugsakke en ʼn paar sakke gehad wat ons self kon dra. Die hotel waar ons by Nungwi gaan bly, het vir ons ʼn taxi gestuur.
Toe ons by die veerboot afklim het die taxi bestuurder met ons naambord daar gestaan. Ons stap toe agter die taxi drywer aan tot by die doeane kantoor, waar ons paspoorte eers gestempel moes word. Hulle het Mariana se paspoort lank staan en bekyk omdat sy ʼn Suid- Afrikaanse burger was, maar in Namibië gebore is. Dit was net snaaks dat ons toe al deur vyf grensposte was sonder enige probleme. Ons moes ook ʼn visum hê vir Zanzibar, maar gelukkig was die visums wat ons op die Zambië / Tanzanië grenspos gekry het nog geldig.

Die taxi was ʼn minibussie met lekker lugreëling en nog in ʼn goeie toestand. Ons ry toe met die bussie vanaf Stone Town tot in Nungwi. Nungwi is maar ʼn arm Zanzibar dorpie en dit het verwaarloos gelyk. Dit was ʼn teerpad vanaf Stone Town tot by Nungwi, maar verander later in ʼn swak grondpad. Ons het nie geweet wat om te verwag nie. Nungwi Amaan Bungalows was die enigste verblyfplek wat ons bespreking aanvaar het, sonder ʼn deposito. Ons wou nie op Zanzibar aankom en dan nog ʼn taxi en verblyf moes soek nie.

Ons ry in ʼn smal paadjie tussen hoë mure tot by die hek van ons blyplek. Dit het baie netjies gelyk, skoon en mooi en reg teen die see. Ons het nie die goedkoper plek gekry nie, want dit was vol- bespreek. Die goedkoper plek se kamers is nie reg op die see nie. By ons kamers het die branders teen die strandhuis se fondasies gebreek. Die strandhuis was op pale gebou en het ‘n mooi uitsig oor die see gehad.


Nungwi Amaan Bungalows, Zanzibar

Ek en Yvette se kamer was omtrent 50 meter van die Van Schalkwyk’s af. Al ons kamers het eenders gelyk, Poen hulle het net ʼn groter stoep gehad. Hierdie het soos ʼn regte paradys gelyk en die indruk wat ons buite in die dorpie gekry het weerspieël glad nie dit wat hierbinne is nie. Die Nungwi Amaan Bungalow se restaurant, Fat Fish, waar ons ontbyt gaan eet, was reg langs my en Yvette se kamer. Ek het net gehoop dat dit nie te raserig sou wees nie. Amaan beteken Peacefull en dit was regtig so.
Ons gaan eet middagete in die Fat Fish en natuurlik was seekos die eerste keuse van bykans almal. Die aand gaan ons die ander restaurant probeer. Daar is ʼn klomp restaurante langs mekaar teen die see. Links en regs van die Nungwi Amaan Bungalow is daar verskeie ander strandhuise en hotels, maar nie een van hulle het so ʼn mooi ligging soos ons blyplek nie.
Die middag gaan slaap ons met lekker vol mae. Ons het die rus nodig gehad vir die volgende paar dae en het nog glad nie op die toer kans gekry om behoorlik te rus nie. Die middag gaan swem ons in die heerlike water wat maar dieselfde temperatuur as Kipepeo sin was, tot net voor sononder. Ons kom later almal by Poen hulle op die stoep bymekaar en geniet die mooi sonsondergang en ʼn rustige drankie. Ek en Poen het vir ons brandewyn saamgebring uit Suid-Afrika vir die geleentheid.

Nungwi Amaan Bungalows, Zanzibar


Fat Fish restaurant, Nungwi Amaan Bungalows, Zanzibar
Die aand het ons na die ander restaurant gegaan vir nog ʼn seekos maaltyd. By die restaurant kry ons toe iemand wat vir ons ʼn bootrit en ʼn snorkel-duik kon reël. Ons maak toe ʼn afspraak vir die volgende dag, hoopvol dat die weer sal saamspeel.

Thursday, July 12, 2007

Dag 21, Donderdag 12 Julie, Dar Es Salaam.

Ons slaap vanoggend later as gewoonlik. Toe dit lig word, kon ons sien hoe naby ons aan die see was. Die see was so plat soos ʼn dam.

Kipepeo Beach, Dar Es Salaam, Tanzanië
Terwyl ons ontbyt gemaak het, gaan swem Poen en sy kinders in die see. Die water was heerlik. Na ontbyt klim ons almal in Poen se bakkie en ry na die Kigamboni veerboot wat tussen die Skiereiland waar ons bly en Dar Es Salaam vaar.

Kigamboni veerboot, Dar Es Salaam, Tanzanië
Ons het beplan om net met die veerboot oor te gaan Dar Es Salaam toe en dan weer met die pad te ry wat ons die vorige aand gery het. Hierdie was maar net so ʼn 40 km ompad maar neem darem net 1 uur om te ry. Ons koop toe kaartjies by die veerboot kantoor en wag een en ʼn halfuur om op die veerboot te klim. Ons het op die veerboot in ʼn ry voertuie gesit tussen ʼn klomp klein winkeltjies. Ons kon sit en kyk hoe die mense hulle maaltye geniet in een van die restaurante.
Die veerboot neem so 30 minute om Dar Es Salaam toe en terug te vaar. Die veerboot kan ongeveer tien voertuie en nog ʼn hele klomp mense oplaai. Terwyl ons staan en wag vir die veerboot, kon ons die Dar Es Salaam vismark aan die oorkant van die baai sien, dit het gelyk asof dit daar redelik bedrywig is. Ek het iewers op die internet gelees dat die veerboot-rit maar taamlik riskant was, maar dit was tog nie so erg nie.
In Dar Es Salaam ry ons tot by die Zanzibar veerboot kantore. Dit is nie baie ver van die Kigamboni veerboot af nie. Daar is verskeie kantore, asook verskeie veerbote wat na Zanzibar vaar op verskillende tye. Terwyl ons nog in Poen se bakkie sit, kom staan daar weer so tien mense om ons, wat kaartjies aan ons wou verkoop. Die een man maak toe sommer aanspraak daarop dat hy in Kimberley gebore is. Dit het vir my darem net te veel na ʼn liegstorie geklink en dat hy net ons besigheid gesoek het, maar hy kon nog ʼn paar woorde in Afrikaans sê, miskien het hy tog die waarheid gepraat! Hy help ons toe om eersteklas retoerkaartjies op die veerboot te koop.
Ons wou die volgende oggend vertrek en kies toe die veerboot wat om 10:00 vanaf Dar es Salaam vertrek. Die eersteklas kaartjies het darem vir ons ʼn spesifieke sitplek gegee en was net US$5 duurder as die gewone kaartjie van US$35. Die sitplekke was ook op die boonste dek van die Sea Express. Volgens die man wat ons met die kaartjies gehelp het, bedien hulle koeldranke en beskuitjies, maar dit was ongelukkig nie waar nie.
Nadat ons die kaartjies gekoop het, ry ons na die huis waar ons vir die tyd wat ons in Zanzibar sou wees, ons voertuie gaan agterlaat. Dit is die huis van Erik Bakkes, Hans Scheffler wat saam met my werk, se swaer. Die man wat ons met die kaartjies gehelp het, het ʼn taxi gehad waarmee hy ons kon vervoer. Hy ry toe voor ons met sy motorfiets om te sien waar die huis van Erik was. Hy sal ons die volgende dag net daar kom oplaai. Iewers langs die pad het ons hom verloor. Ons het maar net gehoop dat ons hom die volgende dag weer sou raakloop. Nadat ons die Askari wat die huis oppas gesê dat ons die volgende dag die voertuie sou bring, ry ons terug Kipepeo Beach toe.
Terug by Kipepeo Beach bel Yvette vir Nichola by Nungwi Amaan Bungalows, en bevestig hoe laat ons in Zanzibar sou wees en sy reël ook sommer dat daar ʼn taxi vir ons sou wees. Ons maak toe middagete en gaan swem almal in die see. Die water was heerlik warm en ʼn plesier om in te wees. Dit was maar redelik bedompig buitekant. Terwyl ons swem kom daar ʼn beeswagter met sy beeste verby. Die kampeerplek se strand area is afgebaken en hulle verkies dat jy vir jou eie veiligheid nie buite dié area beweeg nie. Daar was ook verskeie wagte met knuppels op die strand wat die geskenke handelaars weggehou het . Ons mag items by hulle koop , maar net aan die kant van die strand area. By die Kipepeo Beach kampplek is daar riet afdakke waaronder tente opgeslaan kan word, wat darem ʼn beskutting teen die son is.


Kipepeo Beach kampplek, Dar Es Salaam, Tanzanië
Vanaand braai ons vleis en ontmoet mense van Porterville wat ook op ’n Afrika toer is. Ons ruil lekker inligting uit oor die plekke waar ons reeds was en vra ook meer inligting oor Zanzibar waar hulle reeds gewees het. Volgens hulle is Zanzibar ʼn baie mooi plek.

Wednesday, July 11, 2007

Dag 20, Woensdag 11 Julie, Nairobi tot Dar Es Salaam

Ons staan vanoggend 05:00 op en ry net voor 06:00 uit Nairobi. Die verkeer was al redelik besig maar dit vloei darem. Dit was darem nie stop-ry soos in Kaapstad nie.
So dertig km uit Nairobi op die Mombasa pad draai die pad regs af in die rigting van Tanzanië en Arusha. Die laaste deel van die pad in Kenia was weer sleg en ons ry maar stadig. Dit was vanoggend weer betrokke, natuurlik die dag wat ons weer verby Kilimandjaro moes ry. Langs pad sien ons weer ʼn paar Masai veewagters met hulle tradisionele drag .


Masai veewagter in Kenia

By die Kenia / Tanzanië grenspos gaan ons redelik vinnig deur. Ons betaal US$25 per voertuig vir pad- belasting en permitte. Ons vra ook hoe ver ons moes ry om Kilimandjaro te kon sien. Een man vertel vir ons dat so 35km op die Arusha pad moes ry en dan aan die linkerkant behoort ons Kilimandjaro te sien. Die geluk was weer nie aan ons kant nie. Ons sal maar weer ʼn toer moet onderneem, net soos verskeie ander toeriste, om Kilimandjaro te kan sien.
Ons stop nou in Arusha en gooi weer diesel in. Ons was van voorneme om maar tot by Dar Es Salaam te probeer ry. Ons sou seker laat daar aankom maar liewer dit as om twee dae lank op die pad te wees. By die Pangani kampplek se afdraai stop ons en eet ʼn middagete langs die pad. Ons gebruik ook die geleentheid om ʼn bietjie bene te rek, omdat ons nou al ver gery het. Ons plan was om die Bagamoyo grondpad na Dar Es Salaam te ry, as ons nie te laat by die afdraai kom nie. Ons ry redelik goed sonder baie verkeer, en daar was vandag nie so baie van die busse op die pad nie.

Teen skemer kom ons by die Bagamoyo afdraai en besluit dat ons maar as daar tyd is die volgende dag soontoe sou ry. Dit was nog 120km grondpad tot in Dar Es Salaam as ons via Bagamoyo moes ry. Ons het nie op een van die twee GPS’e die roete na Dar Es Salaam vanaf die dorp Chalinze gehad nie. Ons stop net buite Chalinze by ʼn garage waar ek eers die nuwe kaart- inligting op beide GPS’e gelaai het. Dit was nou alreeds baie donker. Ons ry verder in die rigting van Dar Es Salaam, maar teen ʼn stadige spoed. Ek het probeer om so kort as moontlik agter ʼn ander voertuig te ry, net om darem die pad makliker te kon volg. Die Landy se voorruit was baie vuil van al die goggas wat ons die dag al gekry het.

Ons kom so teen 21:00 in Dar Es Salaam aan. Daar was nie baie verkeer nie, maar groot dele van die stad het nie krag gehad nie. Die straatligte het nie gebrand nie en het die ry en soek van paaie baie moeilik gemaak. Ek moes iewers ʼn fout begaan het toe ek die nuwe kaarte opgelaai het. Ek kon net nie die pad binne in Dar Es Salaam vind wat na ons kampplek by Kipepeo Beach moes loop nie. Nadat Yvette die laptop met die groot kaart op haar skoot vasgehou het, en ons ʼn paar paaie verkeerd gery het, vind ons darem die regte pad. Die grondpad was ʼn ompad vir een van die paaie wat in die proses was om herbou te word. Ons hoop toe maar net dat dit die regte pad is, dit het darem in die regte rigting geloop.

Ons kom toe by die Kipepeo Beach se afdraai aan maar dit het nie meer bestaan nie. Nadat ons ʼn paar keer daar rondgery het, kom daar toe gelukkig twee manne aan wat vir ons die pad kon wys tot by Kipepeo Beach. By die kampplek was daar al ʼn paar tente opgeslaan, en twee Overland vragmotors. Gelukkig was daar vir ons nog slaapplek. Dit was toe alreeds 22:30 en ons wou nie graag nog verder gaan soek na slaapplek nie.
Nadat ons kamp opgeslaan het maak die vrouens vir ons ʼn vinnige aandete en gaan slaap ons maar redelik moeg. Ons kon die branders van die see redelik naby ons hoor breek.

Tuesday, July 10, 2007

Dag 19, Dinsdag 10 Julie, Nairobi

Ek en Poen gaan vanoggend eers die Landy se skokbrekers laat vervang en dan kyk na die geraas op sy Toyota. Ek het op die internet gesoek na ʼn plek wat skokbrekers verkoop in Nairobi en kon darem twee plekke kry wat ook in Suid-Afrika is. Santie skakel toe die een nommer om uit te vind of hulle oop was, maar kon nie antwoord kry nie. Sy het die ander plek geken en kon dus vir my die regte pad verduidelik.
Ons ry toe so 08:00 se kant, gelukkig was daar nie baie verkeer nie en ons kry die plek redelik maklik. Dit was ʼn Kwik-Fit agentskap. Hulle kon my help maar het nie Munro skokbrekers by hulle gehad nie en sou dit eers teen 11:00 kon kry vanaf hulle stoor. Hulle het wel Gabriel skokbrekers gehad, maar dit was presies wat ek in die Landy gehad het. Ek wou dit nie weer laat opsit nie.
Ons ry toe eers weer terug ILRI toe om Poen se bakkie te gaan haal. Die vrouens was intussen besig om klere te was. Ons ry nou met Poen se bakkie na Nairobi Toyota wat aan die ander kant van die stad is. Die verkeer was baie erger in die middestad as aan die buitewyke. By Toyota was daar maar chaos met al die voertuie wat gediens moes word.
Na dertig minute se wag kon Poen darem twee tegnici kry wat met sy bakkie, terwyl ons agterin sit, gaan ry het. Hulle moes natuurlik eers deur slaggate gaan ry voordat hulle die probleem kon vasstel. Terug by die Toyota garage was dit weer ʼn verdere dertig minute se wag sonder dat iemand hom kon help. Toyota in Kenia het glad nie eers die model van Poen se Toyota geken nie en sou hom nie kon help nie. Baie gefrustreerd ry ons toe terug ILRI toe.
Dit was nou weer die Landy se beurt en ons ry nou terug na Kwik-Fit toe. Gelukkig was die skokbrekers daar en kon hulle die stukkende skokbrekers gou omruil. Ek het net gevra dat ek die stukkende skokbrekers kon kry om dit te gaan terugeis op Stellenbosch.
Nadat ek klaar betaal het, gaan stop ons by ʼn Bureau de Change om geld te ruil, ons moes nog inkopies doen en diesel gaan ingooi. Terug by ILRI diens Poen toe die twee voertuie, hy het net nuwe diesel filters opgesit en gekyk dat die water en olie reg was.
Die middag ry ons almal met Poen se bakkie stad toe. Ons gaan doen inkopies by die Sarit Sentrum en ry ook na die Springchoice Butchery, waarheen Santie ons verwys het om lekker Fillet Steaks te koop. Die steaks het baie lekker gelyk en teen R40 ʼn kilogram koop ons sommer ʼn klomp vir die pad terug Suid-Afrika toe en vir saamneem huis-toe as daar sou oorskiet.
Nadat ons beide voertuie vol brandstof gaan maak het, gaan ruil ons weer die Kenia Sjielings terug na US$. Ons wou die volgende oggend vroeg uit Nairobi vertrek om te kyk of ons die verkeer van Nairobi kon vermy en wou ook probeer om tot by Dar Es Salaam te ry. Ons besluit toe om die tente af te breek en eerder binne in die huis te slaap. Die aand braai ons heerlike fillet steaks.

Monday, July 9, 2007

Dag 18, Maandag 9 Julie, Eldoret tot Nairobi

Ash het die vorige aand verduidelik hoe ons moet ry tot waar ʼn mens die Great Rift Valley die mooiste kon sien. Volgens hom was die pad nie te sleg nie, en kon ons sommer daarvandaan direk tot in Nairobi ry. As hierdie pad nie te sleg was nie, sou ek glad nie die werklik slegte paaie van Kenia wou sien nie.



Die feit dat ons sonder skokbrekers gery het, het die ry seker vererger, maar om plek-plek nie vinniger as 20km/h op ʼn teerpad te kon ry nie, moes die kondisie van die pad baie sleg gewees het. Daar was dele van die pad waar die slaggate die hele pad vol was en dan moes ons maar langs die pad ry. Soms was daar selfs ook slaggate in die ompad. Dit het maar op en af geskud en was baie frustrerend vir ons in die Landy.

Ons het gehoop dat die pad nie heelpad so sleg sou wees nie, en dat die uitsig oor die Great Rift Valley die moeite werd sou wees. Dit het gelyk soos die heuwels van Switserland. Daar was groen golwende heuwels, met baie bome en diep valleie. Dit was maar bewolk en effens dynserig, maar ons kon darem ʼn goeie idee kry van hoe dit lyk. Die slegte pad het ook nie beter geword nie.

Ons stop toe weereens by die ewenaar se grens, die keer op ʼn ander pad. Daar was darem ʼn toerisme winkel waar ons ʼn paar aandenkings kon koop.



Die pad het darem nie meer slaggate nie, maar dit het gelyk soos die see, met golwe, wat veroorsaak het dat ons nie vinniger as 60 km/h kon ry nie, anders het die Landy in ʼn groot wieg in gegaan wat baie gevaarlik kon wees.

Van Nakuru af was hulle besig om ʼn nuwe pad te bou wat tot in Nairobi loop. Die ou teerpad lyk erger as ʼn sinkplaat pad en dit was vir 60km ver so. Ons ry nou verby Lake Nakuru en Lake Naivashu op ʼn tydelike grondpad, terwyl hulle aan die pad bou tot by Limuru waar ons op die nuwe pad begin ry.

Net voor Nairobi stop ons by nog toerisme winkels langs die pad. Hiervandaan kon ons ook ʼn mooi uitsig oor die Great Rift Valley kry.

Ons kom so 15:00 se kant in Nairobi aan. Die pad wat ons moes ry as ons Nairobi inkom, was ʼn groot breë pad, net soos die N2 in Kaapstad. Ons moes mooi kyk vir die afdraai na International Livestock Research Instute (ILRI), waar ons vir twee dae gaan bly het by Etienne en Santie. Etienne was op die see besig om sy seiljag vanaf Suid-Afrika na Kenia te bring, so net Santie en die kinders was by die huis. Hulle huis is in die ILRI sekuriteit-kompleks. Dit is baie veilig daar met wagte wat 24 uur die plek patrolleer en ons moes deur groot hekke by ILRI inry. Voor die huis is daar ʼn groot grasperk met lekker koeltebome.

Ons besluit toe om sommer op die grasperk voor die huis te kamp, ons wou nie vir Santie ongerief veroorsaak nie. Ons besluit om sommer vir ons almal Pizzas te bestel vir aandete, aangesien ons lanklaas kitskos geëet het. Santie hulle het permanent internet in die huis en ek gebruik toe sommer die geleentheid om ʼn paar foto’s per e-pos aan die mense by die huis te stuur en ook ʼn bietjie nuus te lees. Yvette stuur toe ook gou vir Nichola by Nungwi Amaan Bungalows, waar ons in Zanzibar gaan bly, ʼn e-pos om te sê dat ons toer nog volgens plan verloop, en dat ons ʼn dag ekstra op Zanzibar wil bly. Nichola wou weet hoe laat ons op Zanzibar sou wees, maar ons kon dit nog nie vir haar bevestig nie. Ons het afgespreek om haar te bel sodra ons die veerboot kaartjies in Dar Es Salaam gekoop het.

Sunday, July 8, 2007

Dag 17, Sondag 8 Julie, Masai Mara tot Eldoret

Ons plan was om vandag tot by Eldoret te ry, die plek in Kenia waar die meeste van hul bekende langafstand atlete vandaan kom en ook oefen, en wat ook deel is van die Great Rift Valley.
Die pad terug was weereens baie sleg. Die Landy het verwoed op en af gehop, en na verdere ondersoek het die laaste moer van die heel skokbreker toe ook afgeval. Die draad op die bout was heeltemal glad en kon nie nog ʼn moer vat nie.
Ons ry toe ʼn ander pad na Eldoret. Een van die mense wat ons gekry het by die Oloololo hek, het aanbeveel dat ons die pad oor Kilgoris moes ry. Dit sou darem so 100km korter wees en hopelik nie so sleg soos die pad wat ons na die Masai Mara gery het nie. Die omgewing was groen en baie mooi met baie heuwels, maar die pad het maar sleg gebly tot by Kilgoris.
Vanaf Kilgoris was dit ʼn teerpad tot by Kisii, maar dit kon net sowel ʼn grondpad gewees het, ons sien net kolle teer en op ander plekke is dit net slaggate wat darem gelukkig nie te diep was nie. Kisii is een van die vuilste dorpe waardeur ons gery het. Daar was ook nie regtig rigtingaanwysers om te wys watter rigting ons moes ry om na Kisumu te gaan nie en ons was maar bly ons het GPS’e gehad.
Kisumu is een van Kenia se grootste stede, maar is ook baie besig en het een van die grootste taxi staanplekke in die land. Heel toevallig het die pad na Kakamega langs die taxi staanplek verby geloop. Ons volgende stop was 15km noord van Kisumu by die grens van die ewenaar.




Die plek was niks besonders nie, net ʼn bord langs die pad wat die ewenaar aandui. Toe ons deur Kakamega ry, het dit begin reën. Ons gaan vanaand slaap by die Naiberi Rivercamp 10 km anderkant Eldoret. Eldoret is ʼn groot plek met selfs robotte, maar die robotte werk natuurlik nie.

Ek het iewers op die internet gelees dat die eienaars van Naiberi Rivercamp daarop aanspraak maak dat hulle die beste storte in Afrika het. Op die GPS se Tracks4Africa-kaart dui dit die Naiberi Rivercamp aan, maar toe ons afdraai van die grootpad, ry ons met ʼn slegte grondpad vol gate en waterpoele tot by die verwysingspunt van die Naiberi Rivercamp. Die plek was verlate en was vir ons ʼn groot teleurstelling. Gelukkig het daar iemand aangekom wat vir ons vertel het dat die kamp geskuif het. Die bord was langs die pad en dat die Tracks4Africa kaart nog die ou kampplek aangedui het. Die eerste kampplek het die eienaars van Naiberi net gehuur, maar die nuwe kampplek was hulle eiendom.
Wat ʼn groot verligting was dit nie toe ons by die nuwe Naiberi kamp kom nie. Die bestuurder Ash kom ontvang ons en wys vir ons die geriewe. Dit was baie indrukwekkend, daar is afsonderlike afdakke met braaiplekke vir elke kampplek. Die ablusie was tot sover die beste wat ons in Afrika by ʼn kampplek gekry het. Daar is ook ʼn groot ontspanningsarea onder dak, wat ʼn kroeg en restaurant insluit. Buite is daar baie gras en ʼn groot splinternuwe swembad. Op pad na die ontspanningsarea loop ʼn mens in ʼn tropiese tuin tonnel wat net deur ʼn argitek of iemand met goeie smaak ontwerp kon gewees het.
Nadat ons kos gemaak het, het dit weer begin reën. Ons gaan maak toe ʼn draai in die kroeg, betaal gou vir die verblyf en drink ʼn yskoue bier terwyl ons ʼn paar stories met Ash uitruil. Later kom die eienaar van die Naiberi kamp ook daar aan, en heet ons welkom. Hierdie kampplek sal ons oral waar ons kom vir mense aanbeveel, net jammer Kenia se paaie was so sleg.

Saturday, July 7, 2007

Dag 16, Saterdag 7 Julie, Masai Mara

Vanoggend toe dit lig word, maak ons koffie vir die pad en gaan ry ons in die park, op soek na die diere. Van ons kampplek af kon ons drie lugballonne sien opstyg. Dit moes baie mooi uit die ballonne wees. Hulle beweeg baie stil, sodat die diere nie skrik nie.

Die kaart wat ons die vorige dag by die hek gekoop het, was maar taamlik onakkuraat. Dit het nie al die paaie aangetoon nie, en van die paaie was ook nie duidelik gemerk nie. Ons ry tot by die naaste rivier waar daar ʼn trop olifante was, wat baie naby ons bakkies verby gestap het. Ons het toe verder op een van die paaie gery, maar die navigasie was maar moeilik. Ek kon nie op die kaart, die GPS, die pad en diere tegelykertyd konsentreer nie.

Ons het toe besluit dat ons maar by die hek moet gaan vra of daar nie ʼn gids was wat saam met ons kon ry nie. Ons was baie gelukkig om ʼn gids te kry wat toe saam met Poen in die bakkie gery het. Die gids het ʼn twee-rigting radio by hom gehad, waarmee hy in kontak was met die ander gidse en vinnig vir ons kon neem na waar daar diere was. Dit was ook nie lank nie, toe kom ons op twee leeus af. Hierdie was die eerste groep leeus wat ons van naby af kon dophou.



Die gids neem ons toe na die Mara rivier waar die diere wat jaarliks migreer, deur die rivier moet swem. Dit is hier waar die krokodille lê en wag vir die diere, dis net jammer ons kon nie die migrasie deur die rivier sien nie. Ons was blykbaar ʼn week of wat te vroeg vir die migrasie. Die gids laat ons toe sommer oor die grasvlaktes ry waar daar geen paaie was nie, ons het nie geweet of dit wettig was nie.



Ons het nog luiperds gaan soek, omdat ons nog niks gesien het nie, maar kon niks kry nie. Ons stop later die dag by die Hippo Pool park hek vir ʼn Sampie en ʼn vinnige middagete. Daarna ry ons terug na ons kampplek en sien nog ʼn groot verskeidenheid diere. Die Masai Mara grasvlaktes is baie mooi. Sekere dele is daar geen bome nie, maar net grasvlaktes met lang gras.

Op pad terug kry ons mense wat die pad regmaak en vra hulle of hulle nie enige luiperds gesien het nie, maar hulle sê daar is niks in die omgewing nie. Terug by die kamp het ons ʼn tydjie rustig gewees en toe weer gaan rondry op soek na diere.

Ongeveer 2.5 km van ons kampplek af kry ons toe twee leeus in die lang gras. Daar het alreeds ʼn paar voertuie by hulle gestaan. Ons het maar gehoop dat hulle ons nie vannag sal kom pla nie. Terug by die kamp, neem ons die enigste groepfoto van die hele toer. Die aand maak ons vuur in die stofies, ons was maar bang dat die wind die gras aan die brand sou steek. Vannag was ons feitlik alleen in die kamp, die meeste mense het alreeds vertrek na ander plekke toe.