Monday, July 16, 2007

Dag 25, Maandag 16 Julie, Nungwi tot Dar Es Salaam.

Vanoggend moet ons die taxi om 08:00 voor die kantoor kry om ons terug te neem na Stone Town. Ons veerboot vertrek 10:00 en dit is so ʼn een uur se rit met die taxi tot by Stone Town.
Ons vaar vandag terug met die Sea Star wat ook twee dekke het. Ons sit weer op die boonste dek, maar hierdie keer was die dek buite met net ʼn seil oor. Hoe dieper ons die see ingevaar het, hoe rowwer het die see begin word. Een van die boot se bemanning het begin om klein swart sakkies uit te deel vir die mense. Amper almal van ons het op ʼn stadium nie lekker gevoel nie. Die skipper het sy bes probeer om die stilste waters uit te soek.


Op die veerboot terug vanaf Zanzibar, almal is maar hartseer.

Poen het maar swaar gekry. Langs ons het daar toeriste gesit en een van die vrouens het maar siek gelyk en ons het almal gewag dat sy moet opgooi. Dit sou natuurlik veroorsaak het dat die van ons met swak mae, ook sou opgooi. Ek het maar solank as moontlik vasgebyt en gehoop dat die vaart so vinnig as moontlik moet verbygaan. Dit het ons amper twee dae geneem om weer normaal te voel. Vir iemand wat die see gewoond is sou dit nie snaaks wees nie, maar vir ons groentjies was dit ʼn nagmerrie ondervinding.

Terug by Dar Es Salaam, het ons die taxi drywer gekry met wie ons afgespreek het om ons te kom haal. Ons ry toe almal met sy bussie na Erik se huis. Daar was die yskas in Poen se bakkie nog kliphard gevries na drie dae. Dit wys jou hoe lank kan ʼn yskas koud bly as dit nie oopgemaak word nie. Ons stop by ʼn garage en maak die voertuie vol diesel en gaan ruil ook geld om by ʼn Bureau de Change. Daarna ry ons terug na Kipepeo Beach om weer vir nog een aand daar te gaan slaap.

Ons stop eers langs Kipepeo Beach by Sunrise Beach, maar hier was die kampgeriewe nie so goed as by Kipepeo Beach nie. Die mense maak meestal voorsiening vir toeriste wat in strandhuise bly. By Kipepeo Beach kry ons toe dieselfde staanplek wat ons drie dae tevore gehad het. Ons gaan eet eers almal ʼn hamburger in die restaurant voor ons tente gaan opslaan. Vanaand wou ons die yskaste so koud as moontlik stel terwyl daar kragtoevoer was. Die kragtoevoer was egter so swak dat beide yskaste soms afskakel as die toevoer te min raak. Ons besluit toe om die yskaste maar weer op battery krag te laat loop teen ʼn hoër temperatuur.

No comments:

Post a Comment