Tuesday, July 3, 2007

Dag 12, Dinsdag 3 Julie, Ngorongoro Crater tot Serengeti

Vanoggend staan ons vroeg op in die reën, maak koffie en klim almal in Poen se bakkie vir ons rit na die krater. Ons wil kostes bespaar en dit gaan baie duur kos om met twee voertuie teen US$200 per voertuig in die krater te gaan. Die hek van die krater maak om 07:00 oop en ons wil vanoggend eers krater toe gaan en namiddag moet ons uit die Ngorongoro Crater park wees voor 15:00. Dan is dit nog 82 km tot by die Serengeti hek.


Yvette geniet ‘n glasie vonkelwyn op die Ngorongoro Crater.


‘n Baie winderige, koue aand, Ngorongoro Crater



Ons het gehoop dat dit nie in die krater sou reën nie, want dit sou darem ʼn groot teleurstelling vir ons wees.

By die krater-hek moet ons die bewys van betaling toon en toe wil hulle hê daar moet ʼn gids saam met ons gaan. Volgens die amptelike dokumente is gidse verpligtend, maar daar was nie plek op ons voertuig nie. Ons was dan reeds ses mense in Poen se bakkie. Gelukkig het Poen die naam van die vrou wat in beheer was van die Overland vragmotor wat gisteraand langs ons geslaap het gehoor. Hy noem toe dat Wanda gesê het ons kan saam met hulle ry. Die manne by die hek het ons nie eintlik geglo nie, maar ons tog later toegelaat om verder te ry.

Terwyl ons teen die kraterrand afgery kom, het die wolke ook gelig en die reën opgehou. Die plantegroei was glad nie soos bo-op die kraterrand nie, daar was meer gras en redelik droog met min bome.


Ons het al hoe meer diere begin sien, maar gewonder waar die groot troppe wildebeeste dan was. Ons het op ʼn ver afstand twee leeus in die gras sien lê. Dit was die eerste leeus wat ons op die toer gesien het. Verder sien ons nog baie wildebeeste, sebras, gaselle, en seekoeie. Dit is jammer dat die tyd in die krater net beperk is tot ses ure, want daar was so baie ander wild om te sien. Gelukkig het die Serengeti en Masai Mara nog voorgelê waar ons wild kon sien.

Net voordat ons uit die krater gaan, stop ons by ʼn piekniek-terrein en toilet. Daar het ons die enigste olifant wat ons in die krater gekry het, van naby gesien. Die ou grote het ons nogal laat skrik. Dit is ʼn een-rigting pad en is baie steil teen die wand uit. By die hek mag jy net afgaan en dan by die ander pad mag jy net opry.

Ons kom teen ongeveer 12:00 terug by Simba kamp. Toe ek by die Landy kom sien ek dat daar twee oliestrepe by die linker agterwiel afloop. Dit was die wiel wat ʼn paar dae tevore pap was. Ons het die idee gekry dat dit die ewenaar is wat olie lek en dat ons maar net moet kyk dat die olievlak hoog bly. Ongelukkig het nie een van ons ewenaarolie by ons gehad nie en moes ons maar tot in Nairobi ry. Ons wou nie terugdraai nie en sal maar die kans vat om gewone enjin olie in te gooi.

Ons vertrek hierna na die Serengeti. Die mense by Ngorongoro Crater hek het gesê dit neem so twee tot drie ure om tot by die Serengeti hek te ry. Die afstand is 82 km maar die pad was baie sleg. Die Overland voertuie wat die toeriste vervoer, jaag by ons verby. Ons hoor later dat hulle hul voertuie se bande tot 3.5 bar pomp en dan ry hulle so vinnig as wat hulle kan. Ons bande was effens papper en ons kon nie vinnig ry nie omdat ons voertuie swaar gelaai was en dit ons eie voertuie is. Ons gemiddelde spoed was 28km/h en dit het ons twee ure en 58 minute geneem om die afstand te ry. Poen ry op die toer met ʼn feitlik splinternuwe bakkie. Ek glo hy het elke stamp en skud gevoel en die bakkie seker baie jammer gekry.

Ons kom net voor 15:00 by die hek aan. Ek en Poen gaan betaal solank terwyl die vrouens by die voertuie wag. Daar was ʼn baie lang ry en dit neem ons amper ʼn halfuur om alles af te handel. By die hek moet jy jou betalingsbewys van Ngorongoro Crater wys, waarop hulle dan die inkom-tye nagaan. Volgens die man by die hek was ons laat en wou hy ons laat betaal, maar nadat ons vir hom genoem het dat ons ʼn halfuur in die ry gestaan het by die kantoor, laat hy ons die Serengeti binne sonder ʼn boete. Ook maar goed ons het nie gaan kyk hoe lyk dit by die Olduvai Gorge nie, ons sou dit nie betyds gemaak het nie.

Die eerste deel van die Serengeti waar ons inkom het groot kort-gevrete grasvlaktes met baie gaselle daarop. Op ons kwitansie was die Dik Dik kampplek by Seronera opgeskryf vir kampering, maar dit was reeds vol. Gelukkig is daar vier kampplekke reg langs mekaar, die Dik Dik, Pimbi, Nyati en Ngiri kampe. Die Dik Dik en Pimbi kampe was vol, maar daar was geen mense by die Nyati kamp nie. Dit was vir ons ʼn teken dat daar waarskynlik fout was met die geriewe. Gelukkig kry ons nog plek in die Ngiri kamp waar ons vir twee nagte gaan bly.

By Ngiri kamp aangekom, was dit Poen se beurt om ʼn pap wiel reg te maak. Gelukkig was dit net ʼn gat op die loopvlak wat deur ʼn klip veroorsaak is. Hy kon darem die band maklik met ʼn prop heelmaak. By Ngiri kamp was die stortgeriewe nog in aanbou, dus moes ons maar ons eie stort opslaan. Gelukkig is daar baie lopende water.

Die aand maak ons ʼn lekker groot vuur en braai steaks wat spesiaal in Suid-Afrika gekoop is vir die Serengeti. Die nag hoor ons gereeld die Sebras senuagtig blaf, maar geen roofdiere nie. Die hiënas kom gewoonlik snags by die kampe aas, maar ons was baie gelukkig dat nie een ons kom pla het nie. Daar is geen heining om enige van die kampeerplekke nie, die wildediere kan dus maklik inkom. Die teenwoordigheid van mense is seker maar ʼn afskrikmiddel.

No comments:

Post a Comment